Pelican | |
---|---|
'n Witpelikaan in broeigewaad in Walvisbaai, Namibië. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | Pelecanidae Rafinesque, 1815
|
Genus: | Pelecanus |
Tipespesie | |
Pelecanus onocrotalus | |
Spesies | |
8, sien teks |
'n Pelikaan is 'n groot watervoël met 'n lang snawel, 'n groot keelsak (of beksak) en gewebde pote. Daar is agt lewende spesies wat aan die biologiese familie Pelecanidae en genus Pelecanus behoort.[1] Hulle het 'n onreëlmatige globale verspreiding, maar is afwesig van die Suid-Amerikaanse binneland, sowel as die poolstreke en die oop see.
Pelikane word tot 1,80 meter lank en kan 'n vlerkwydte van 3 meter hê. Hulle word tot 14 kilogram swaar en kan tot 35 jaar oud word. Die witpelikaan en kroeskoppelikaan is die grootste vlieënde voëls. Hulle is ook bedrewe swemmers en kan tot 6 km/h swem.[2]
Dié voëls vreet vis, wat hulle met hulle snawels uit die water skep. Pelikane het 'n groot snawel met 'n keelsak (tussen die onderkant van die snawel en die keel). Die water word gedreineer deur die kop omhoog te hou voordat die vis afgesluk word. Hulle jag in groepe en klap hul vlerke uitbundig om skole vis te omsingel of na vlak water te dryf. As voedsel skaars is, sal hulle ook ander voëls se kuikens vreet.[3]
Pelikane is sosiale voëls, wat nie net saam jag nie, maar ook in kolonies broei, waar hulle dig op mekaar sit. Die vier spesies met wit vere is geneig om hul neste op die grond te maak, terwyl die vier met bruin of grys vere hoofsaaklik neste in bome bou. In aanhouding broei hulle net in groot groepe.
Hulle lê een tot drie eiers, maar gewoonlik twee. Die broeitydperk is 38 tot 45 dae. Die kuikens word kaal, sonder vere gebore. Binne 'n paar dae begin bruin donsveertjies groei. Hulle voed uit hulle ouers se keelsakke.