Pierre Trudeau

Pierre Elliott Trudeau
Pierre Trudeau
Trudeau in 1975

Ampstermyn
20 April 1968 – 4 Junie 1979
Voorafgegaan deur Lester B. Pearson
Opgevolg deur Joe Clark
Ampstermyn
3 Maart 1980 – 30 Junie 1984
Voorafgegaan deur Joe Clark
Opgevolg deur John Turner

Leier van die Amptelike Opposisie
Ampstermyn
4 Junie 1979 – 3 Maart 1980
Voorafgegaan deur Joe Clark
Opgevolg deur Joe Clark

Leier van die Liberale Party van Kanada
Ampstermyn
6 April 1968 – 16 Junie 1984
Voorafgegaan deur Lester B. Pearson
Opgevolg deur John Turner

Minister van Justisie
Ampstermyn
4 April 1967 – 5 Julie 1968
Voorafgegaan deur Lucien Cardin
Opgevolg deur John Turner

Persoonlike besonderhede
Gebore 18 Oktober 1919
Montreal, Quebec, Kanada
Sterf 28 September 2000
Montreal, Quebec, Kanada
Politieke party Liberale Party van Kanada
Eggenoot/-note Margaret Trudeau (1971–1984)
Kind(ers) Justin Trudeau
Alexandre Trudeau
Michel Trudeau
Sarah Elisabeth Coyne (dogter met Deborah Coyne)
Alma mater Université de Montréal
Harvard-universiteit
Institut d'Études Politiques de Paris
London School of Economics
Religie Rooms-Katoliek
Handtekening

Joseph Philippe Pierre Yves Elliott Trudeau (Engels: [truːˈdoʊ]; Frans: [tʁydo]; * 18 Oktober 1919; † 28 September 2000), algemeen bekend as Pierre Trudeau of Pierre Elliott Trudeau, was die 15de eerste minister van Kanada en het twee ampstermyne gedien: tussen 20 April 1968 en 4 Junie 1979, en tussen 3 Maart 1980 en 30 Junie 1984.

Hy het in 1940 'n BA-graad aan die Jean de Brébeuf-kollege in Montreal behaal, in 1943 'n graad in die regte aan die Universiteit van Montreal en in 1945 'n MA-graad in politieke ekonomie aan die Universiteit van Harvard. Daarna het hy ook nagraads in regte, ekonomie en staatsleer in Parys en Londen gestudeer. In 1943 is hy tot die balie van die provinsie Quebec toegelaat, en in 1949 is hy as administratiewe beampte van die Geheime Raad in Ottawa aangestel.

In sy regspraktyk (1951-1961) het Trudeau hom op hofsake rakende arbeidswetgewing en burgerregte toegespits, en in 1961 is hy aangestel as hoogleraar in die regsfakulteit van die Universiteit van Montreal. Hy is op 4 Maart 1971 met Margaret Joan Sinclair getroud en het drie seuns. Trudeau se politieke loopbaan het in 1965 begin toe hy as verteenwoordiger vir die kiesafdeling Mont Royal tot die Kanadese Laerhuis verkies is.

In die daaropvolgende jaar het hy parlementere sekretaris van die destydse eerste minister, Lester B. Pearson, geword en in 1967 is hy aangestel as minister van justisie in Pearson se kabinet en ook as Kanada se prokureur-generaal. Op 6 April 1968 het Trudeau leier van die Liberale Party geword, en op 20 April 1968 is hy tot eerste minister verkies.

Hy het die amp vir drie termyne beklee totdat die Progressiewe Konserwatiewe Party onder leiding van Joseph Clark op 22 Mei 1979 die bewind oorgeneem het. Trudeau het op 3 Maart 1980 weer eerste minister geword. As regeringshoof het hy onder meer diplomatieke bande met die Volksrepubliek China aangeknoop (1970), betrekkinge met Frankryk verbeter en die afskeiding van die Franssprekende provinsie Quebec afgewend.

Tydens sy eerste premierskap het hy veral met laasgenoemde probleem te kampe gehad, maar hy het deurentyd 'n sterk posisie ten opsigte van die separatiste ingeneem.

Trudeau het sy politieke loopbaan as advokaat, intellektueel en politieke aktivis in sy geboorteprovinsie Quebec begin. In die 1960's het hy by die Liberale Party van Kanada aangesluit en sodoende op federale vlak by die politieke lewe betrokke geraak. Hy is deur die destydse premier Lester B. Pearson as parlementêre sekretaris aangestel en later as Minister van Justisie in Pearson se kabinet benoem.

Trudeau het kort voor lank 'n mediasensasie veroorsaak (waarna as Trudeaumania verwys is) toe hy in 1968 sy kandidaatskap vir die pos as leier van die Liberale Party aankondig – 'n politieke wedren wat hy maklik gewen het. Vanaf die laat sestigerjare tot in die middel van die 1980's het hy met sy sprankelende persoonlikheid die politieke toneel in Kanada in 'n voorheen ongekende mate oorheers en orals in die land uiteenlopende reaksie uitgelok. Hy is bewonder deur sy aanhangers, maar het tergelykertyd polarisasie aangewakker. Sy persoonlike leuse was "Rede bo passie."

Die belangrikste politieke prestasies gedurende sy twee ampstermyne was die vestiging van diplomatieke betrekkinge met die Volksrepubliek China in 1976, die verbetering van betrekkinge met Frankryk, die oorwinning oor die separatistebeweging in die Franssprekende provinsie Quebec, die verkryging van konstitusionele onafhanklikheid van die Britse Parlement en die samestelling van 'n nuwe Kanadese grondwet waarin basiese burgerregte veranker en 'n formule vir toekomstige wysigings ingesluit is.[1]

In 1984 het Pierre Trudeau uit die politiek bedank en is deur John Turner as eerste minister opgevolg.

  1. Encyclopædia Britannica: Pierre Elliott Trudeau. Besoek op 24 Junie 2015

Developed by StudentB