Pitia

Lukurgos Raadpleeg die Pitia (1835/1845), deur Eugène Delacroix.

Die Pitia, Putia of Puthia[1] (Grieks: Πῡθίᾱ) was die naam van die hoëpriesteres van die Tempel van Apollo by Delphi wat ook gedien het as die orakel. Sy was algemeen bekend as die Orakel van Delphi.

Die naam "Pitia" is afgelei van Pito, wat volgens mites die oorspronklike naam van Delphi is. Die pleknaam is in Grieks afgelei van πύθειν, "om te vrot", wat verwys na die sieklike soet reuk weens die ontbinding van die liggaam van die reusagtige Piton nadat dit deur Apollo doodgemaak is.[2]

Die Pitia het op die laatste in die 8ste eeu v.C. ontstaan[3] en was bekend vir haar profesieë danksy die feit dat sy vervul was met die gees van die god, in dié geval Apollo. Die Pitiese priesteres het teen die einde van die 7de eeu v.C. belangrik geword en is tot in die 4de eeu n.C. geraadpleeg.[4] In dié tyd was die Orakel van Delphi die orakel met die grootste aansien en gesag onder die Grieke, en sy was die magtigste vrou van die klassieke wêreld. Die orakel is een van die bes gedokumenteerde godsdiensinstellings van die klassieke Grieke. Skrywers wat haar genoem het, sluit in Aischulos, Aristoteles, Clemens van Alexandrië, Diodorus, Euripides, Herodotos, Ovidius, Plato, Plutarchus, Sophokles, Strabo en Thukydides.

Min besonderhede bestaan egter oor hoe die Pitia te werk gegaan het, omdat skrywers van die antieke tyd (6de tot 4de eeu v.C.) die proses as algemene kennis hanteer en dus onnodig geag het om te verduidelik. Dié wat haar enigsins in detail bespreek het, was uit die 1ste tot 4de eeu n.C. en hul weergawes verskil.[5] Volgens een van die mees algemene weergawes het die Pitia haar orakels gelewer in ’n waansinnige toestand wat veroorsaak is deur walms wat uit ’n spleet in ’n rots gekom het en het sy ’n brabbeltaal gepraat wat die priesters vertolk het as enigmatiese profesieë. Hulle het dit dan in poëtiese daktiliese heksameters omgesit wat in die Griekse letterkunde bewaar gebly het.[6] Dié idee is egter teengestaan deur geleerdes soos Joseph Fontenrose en Lisa Maurizio, wat gemeen het al die antieke bronne noem dat die Pitia verstaanbaar en in haar eie stem gepraat het.[7] Herodotos het in die 5de eeu v.C. vertel die Pitia praat in daktiliese heksameters.[8][9]

  1. Boshoff, Piet (2019). Plato: verdediging van Sokrates. Akademia Uitgewery. ISBN 978-0-9946839-2-2.
  2. Homeriese Loflied aan Apollo 363–369.
  3. Athletes and Oracles: The Transformation of Olympia and Delphi in the Eighth Century BC; Morgan C. 1990, bl. 148.
  4. Delphi: A History of the Center of the Ancient World; Michael Scott, Princeton University Press, bl. 30
  5. Delphi: A History of the Center of the Ancient World; Michael Scott, Princeton University Press, bl. 11
  6. Sien bv. Lewis Farnell, The Cults of the Greek States, 1907, vol. IV, bl. 189.
  7. Fontenrose 1978, bl. 196–227; Maurizio 2001, bl. 38–54.
  8. Mikalson, Jon D. Herodotus and Religion in the Persian Wars. Univ of North Carolina Press, 2003. ISBN 9780807827987. Bl. 55
  9. Herodotus. The Histories. Vert. Godley, A.D. Harvard University Press. 1920. Boek 1, hoofstuk 65. (1922)

Developed by StudentB