Planthormoon

Plant- of fitohormone staan bekend as hormone omdat hulle in een deel van 'n plant afgeskei word, maar ander dele van die plant beïnvloed. Die meeste van hulle het ʼn uitwerking op die groei van die plant. Nadat die struktuur van hierdie chemiese stowwe duidelik geword het, is hulle in die laboratorium vervaardig om die groeiprosesse in plante kunsmatig te beïnvloed. Hoewel die bestaan van groeibevorderende stowwe in plante reeds deur Darwin en verskillende navorsers voor hom in die 19e eeu vermoed is, het die Deen Boysen Jensen in 1911 die eerste bewys daarvoor gelewer.

Hy het vasgestel dat 'n fototropiese buiging van die stingeltjies van hawerkiemplantjies opgehou het as hy die groeipunte (hawerkoleoptiele) verwyder het, maar dat die buiging weer begin het as hy 'n blokkie gelatien met die afgesnyde groeipunt daarop op die stingels sit. Sy gevolgtrekking was dat een of ander stof uit die groeipunt van die stingel deur die gelatienblokkie na die stingel moes diffundeer en daar groei veroorsaak. Die Nederlander Friedrich Went het omstreeks dieselfde tyd groeipunte van stingels afgesny en hulle op blokkies agar gesit, en daarna die agarblokkies op die stingels sonder groeipunte gesit.

Die gevolg was dat die stingels weer begin groei het, en die stof wat oorspronklik uit die groeipunte gekom het, is ouksien (letterlik vermeerderstof) genoem, Dit het later geblyk dat hierdie stof, benewens in saailinge en volwasse hoër plante, ook in fungi, en selfs in die mens se urien voorkom.

F. Kögl het vir die eerste keer ontdek dat die stof indool-3-asynsuur (IAA) is. Ouksien en ander groeistowwe staan bekend as hormone omdat hulle net soos dierlike hormone nie op die plek van produksie nie, maar elders in die organisme ʼn uitwerking het. Daar is eksperimenteel aangetoon dat slegs 2 X 10−8 mg ouksien genoeg is om binne 90 minute 'n buiging van 100 te bewerkstellig by hawerkoleoptiele (Avena sativa) waarvan die groeipunte verwyder is. As die standaardeenheid is hierdie hoeveelheid bekend as die sogenaamde Avena-eenheid (AE).

Die ouksienkonsentrasie verskil in verskillende dele van 'n plant. In stingelgroeipunte is die konsentrasie byvoorbeeld ʼn duisend tot tienduisend keer meer as die van die wortels. Na die ontdekking van IAA is ʼn aantal verwante verbindings soos indooletanal en indooletanol ontdek, en daar word vermoed dat hierdie verbindings voorlopers van IAA is. Voorts is daar ook gevind dat ouksien dikwels aan proteïene en suikers gebind is en daardie ouksiene dien vermoedelik as ʼn onaktiewe reserwebron van die groeistowwe.

Verskeie sintetiese stowwe waarvan die werking baie met die van ouksiene ooreenstem, is in die laaste paar dekades vervaardig, Die belangrikstes daarvan is naftaleen-asynsuur (NAA), indoolbottersuur (IBA) en 2,4-dichloorfenoksi-asynsuur (2,4-D). Veral 2,4-D is baie aktief. Wanneer hierdie stowwe in hoë konsentrasies toegedien word, veroorsaak hulle die dood van plante deurdat die plante letterlik te vinnig groei. Om daardie rede is 2,4-D en soortgelyke stowwe lank as onkruiddoders gebruik en word hulle nog gebruik.


Developed by StudentB