Plastiek is 'n ekonomies nuttige en veelsydige petrochemiese materiaal waarvan die vorm maklik gegiet of verander kan word. Dit word algemeen in die vervaardiging van goedere of vir verpakking gebruik. Daar is verskeie tipes plastiek. Sommige kan slegs tydens vervaardiging gevorm word, waarna dit verhard. Ander kan deur dit te smelt weer in nuwe vorme gegiet word.
Die meeste plastieke is mensgemaak en kom nie in die natuur voor nie. Hulle word dikwels van aardgas of van olie uit ondergrondse bronne gemaak. Meeste materiale wat plastiek genoem word is polimere wat uit baie lang kettings van eenderse molekules bestaan. Die polimere word verkry deur alkene te polimeriseer, en die alkene word op hul beurt deur katalitiese kraking in olieraffinaderye gegenereer.
Mense het vir 'n lang tyd met plastiek van natuurlike polimere geëksperimenteer. Alexander Parkes, 'n Engelse uitvinder (1813-1890) het die vroegste vorm van plastiek in 1855 geskep. Dit was baie hard, buigbaar en deurskynend. Hy het dit "Parkesine" genoem. Eers sedert die vyftigerjare van die twintigste eeu word plastiek egter op groot skaal geproduseer.
Plastiek is 'n algemene oorsaak van rommel en omgewingsbesoedeling. As dit nie hersirkuleer word nie, word dit afval wat nie maklik deur natuurlike prosesse afgebreek kan word nie. Dit kan giftige gasse vrystel as dit verbrand word, afhangend van die betrokke polimeer. Daar is min organismes wat polimere kan vreet. 'n Voorbeeld is die groot wasmot.