Plesiosauria | |
---|---|
'n Gerestoureerde skelet van 'n Plesiosaurus. | |
Skelet van Peloneustes. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klas: | Reptilia |
Superorde: | †Sauropterygia |
Klade: | †Pistosauria |
Orde: | †Plesiosauria Blainville, 1835 |
Subgroepe | |
|
Die Plesiosauria (van die Griekse πλησίος plesios, "na aan", en sauros, "akkedis"),[2] of plesiosouriërs, is 'n orde of klade van uitgestorwe Mesosoïese seereptiele wat tot die superorde Sauropterygia behoort het.
Plesiosouriërs het in die laaste periode van die Trias die eerste keer verskyn, moontlik in die tydsnede Rhaetium, sowat 203 miljoen jaar gelede.[3] Hulle het veral in die Jura algemeen geraak en het floreer totdat hulle in die Kryt-Paleogeen-uitwissingsvoorval, sowat 66 miljoen jaar gelede, verdwyn het. Hulle was in die wêreld se oseane versprei, en sommige spesies het minstens gedeeltelik varswateromgwings bewoon.[4]
Plesiosouriërs was van die eerste fossiele reptiele wat ontdek is. Aan die begin van die 10de eeu het wetenskaplikes besef hoe uitsonderlik hulle bou was en hulle is in 1835 as 'n aparte orde geklassifiseer. Die eerste genus van Plesiosauria, die Plesiosaurus, het in 1821 'n naam gekry. Sedertdien is meer as 100 spesies beskryf. Die getal ontdekkings het in die 21ste eeu toegeneem, en dit het gelei tot 'n groter begrip van hulle anatomie, verwantskappe en lewenswyse.
Plesiosouriërs het 'n breë, plat lyf en kort stert gehad. Hulle ledemate het in vier lang swempote ontwikkel, wat aangedryf is deur sterk spiere. Dié was geheg aan breë, benerige plate wat deur die skouergordel en bekken gevorm is. Die swempote het 'n vlieënde beweging deur die water uitgevoer. Plesiosouriërs het lug ingeasem en lewende kleintjies voortgebring; dit is 'n aanduiding dat hulle warmbloedig was.
Daar was twee morfologiese soorte plesiosouriërs. Sommige spesies het 'n "plesiosouromorfe" bou gehad; hulle nekke was besonder lank en hulle koppe klein. Hulle was relatief stadig en het klein seediere gevang. Ander spesies het tot 17 meter lank geword en het 'n "pliosouromorfe" bou gehad, met 'n kort nek en groot kop. Hulle was toproofdiere: vinnige jagters van groot prooi. Dié twee soorte het verband gehou met die tradisioneel streng verdeling van Plesiosauria in twee subordes, die langnekkige Plesiosauroidea en die kortnekkige Pliosauroidea.