Postmodernisme

Postmodernisme is 'n beweging in die kunste, argitektuur en filosofie wat in die laat 20ste eeu as 'n teenreaksie op die modernisme ontstaan het. Postmodernisme behels skeptiese beskouings oor die kulturele lewe, literatuur, kuns, filosofie, geskiedenis, ekonomie, argitektuur, fiksie en literêre kritiek. Dikwels word dit met dekonstruksie en poststrukturalisme verbind omdat die gebruik van die term "postmodernisme" op dieselfde tyd gewild geraak het soos 20ste eeuse poststrukturele denkrigtings.

Die term "postmodernisme" is gebruik om na 'n verskeidenheid strominge binne die kuns, musiek, literatuur en ander velde te verwys wat op sekere tendense in modernisme gereageer het en veral deur 'n herlewing van historiese elemente en tegnieke gekenmerk word.[1]

Postmodernisme is in wese die sambreelnaam vir 'n kulturele beweging wat sedert die laat 1950's 'n reeks filosofiese standpunte en estetiese style in die kuns beïnvloed het. In die filosofie is dit gebaseer op die oortuiging dat alle menslike kennis perke het en kultureel bepaal word, sodat daar geen metapunt is wat toegang tot suiwer waarheid sonder 'n filter bied nie.[2] In die kunste is dit 'n 'n prinsipiële eklektiese beweging wat die onderskeid tussen lae en hoë kulturele produksie verwaarloos en ironiese of anargistiese kombinasies van elemente uit verskillende styltydperke, bewegings, genres, media en tegnieke gebruik wat voorheen as onversoenbaar beskou is.[3]

Postmodernisme word gesien as 'n reaksie op modernisme, as 'n voortsetting in die radikaliserende sin van modernisme, en ook as 'n kombinasie van die twee, omdat dit 'n fase is van modernistiese rebellie teen tradisionalisme en 'n fragmentariese opvolger daarvan met 'n nuwe boodskap. Vanuit chronologiese oogpunt hou die postmoderne wêreldbeskouing nie verband met modernisme nie, maar met die eksistensialisme en die absurdisme.[4][5]

Postmoderne kuns en literêre werke word gekenmerk deur die dikwels ironiese kombinasie. Onder invloedryke post-moderne denkers is Jean Baudrillard, Jacques Derrida, Michel Foucault, Martin Heidegger, Julia Kristeva, Jean-François Lyotard en Richard Rorty.

  1. Merriam Webster's Collegiate Dictionary 2004
  2. O' Donnell (2003), bl. 6.
  3. Prof. dr. Guido Geerts en drs. Ton den Boon (red.), Van Dale Groot Woordenboek der Nederlandse taal. j-r. Utrecht en Antwerpen: Van Dale Lexicografie, dertiende uitgawe, 1999, 2634. ISBN 9066484233
  4. Van Bork et al., online.
  5. R.R. Palmer, Joel Colton en Lloyd Kramer, A History of the Modern World. Ninth Edition. Boston etc.: McGraw-Hill, 2002, bl. 1039. ISBN 0071121471

Developed by StudentB