'n Rabbyn (Hebreeus: רב, Raw; meervoud: רבנים, Rabbanim; Asjkenasiese Hebreeus en Jiddisj: Row; meervoud: Rabbonim; Afrikaanse meervoud: rabbyne; letterlik: "meester" of "leraar") is 'n Joodse geleerde wat 'n kundige op die gebied van die skriftelike en mondelingse Tora is.
Met die term rabbyn word vandag algemeen na die geestelike leier van 'n sinagogegemeente verwys. Sy belangrikste rol is dié van 'n spirituele raadgewer, leraar, kenner van die halagá ("die Joodse leefwyse", הלכה, "lewenswandel"; afgelei van van die werkwoord halág, הלך, "om te gaan"), en dus die persoon wat geskille oor die Joodse wet beslis. 'n Rabbyn wat in 'n beit dien (בית דין, 'n Joodse regbank) dien is vergelykbaar met 'n regter. In 'n kleiner gemeente dien 'n rabbyn soms ook as gazan (חַזָּן, voorsanger) in die sinagoge en/of as ba'al koré (בעל קורא, voordraer van die weeklikse Toralesing).
Baie Jode wat die studie tot rabbyn afgesluit het, is nie as godsdienstige leiers werksaam nie. Die titel rabbyn is beide 'n akademiese en 'n eretitel, vergelykbaar met 'n doktorale graad. In die formele sin dui die titel slegs die bereiking van 'n studievlak aan, nie 'n beroep nie. 'n Rabbyn word deur 'n sinagogegemeente in diens geneem en kan ook weer ontslaan word.[1]
Sommige lande beskik oor 'n eie hoofrabbinaat wat die hoogste geestelike gesag vir Jode in 'n land vorm. Sedert 2005 dien Warren Goldstein as hoofrabbyn vir die Jode in Suid-Afrika. Israel het twee hoofrabbyne, een vir Asjkenasiese en een vir Sefardiese Jode.