Riga Europese Kultuurhoofstad 2014 | |
---|---|
Ligging in Letland | Wapen |
Vlag | |
Land | Letland |
Gewes | Lyfland (Vidzeme) |
Koördinate | 56°57′N 24°6′O / 56.950°N 24.100°O |
Stigting (Duitse handelspos) | 1158 |
Stadstatus | 1225 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 304 vk km |
Hoogte bo seevlak | 7 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2023) | 609 489[1] |
- Bevolkingsdigtheid | 2 000/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 870 000 |
Tydsone | UTC +2 (OET) |
- Somertyd | UTC +3 (OEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Kontinentaal-gematig |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | 6,5 °C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | −3,5 / 17,3 °C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslae | 620,9 mm |
Burgemeester | Vilnis Ķirsis |
Amptelike webwerf | www.riga.lv |
Riga (Lets: Rīga, [ˈriːɡa], ; Litaus: Ryga; Lyfs: Rīgõ; Esties: Riia; Russies: Рига) is die hoofstad asook die ekonomiese, kulturele en opvoedkundige sentrum van Letland met 'n bevolking van 609 489 (soos in 2023).
Die historiese Hansestad, wat aan weerskante van die breë Daugava-rivier uitgebrei het en tans die derde grootste seehawe in die Oosseegebied ná Sint Petersburg en Stockholm is, is die grootste stedelike sentrum in die Baltiese lande en huisves sowat 'n derde van die totale Letlandse bevolking. Binne 'n radius van sowat veertig kilometer van Riga se stadsentrum af is selfs die helfte van hierdie Baltiese land se bevolking gekonsentreer.
Riga is ná Lübeck die tweede oudste stad wat deur Duitsers langs die Oossee gestig is – met sy amptelike stigtingsjaar 1201 is dit selfs ouer as Stralsund, Rostock, Stettyn (Szczecin), Danzig (Gdansk) en Koningsberg (nou Kaliningrad). Eeue lank het vreemdelinge, veroweraars, stadstigters, sendelinge, koopmans, handelaars, diplomate en toeriste Riga hoofsaaklik per see bereik.
Die stad, wat vroeër dikwels die "Hamburg van die Ooste"[2] genoem is, is tot in die 20ste eeu deur vreemde moondhede oorheers – die Duitse Ridderorde, Pole, Swede en Rusland – en het eers in die tydperk tussen die twee wêreldoorloë as setel van 'n onafhanklike Letlandse regering gedien. Ná dekades van Sowjet-besetting het Riga in 1991 weer sy status as hoofstad van die Republiek Letland herwin.
Riga verteenwoordig tans twee derdes van Letland se bruto binnelandse produk, beskik oor 29 van Letland se 35 tersiêre onderwysinstellings, die beduidendste musea en 'n tiental teaters. Die historiese stadskern Vecrīga is danksy sy ryk argitektoniese erfenis met Gotiese, Barok- en Art Nouveau-boukuns, wat oor 'n tydperk van agthonderd jaar ontstaan en aan Riga die bynaam "Parys van die Noorde" besorg het, deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.[3]
Die ongekende ekonomiese opswaai in die jare ná Letland se onafhanklikheidsverklaring in 1991 het van Riga 'n eersterangse Europese metropool gemaak wat naas sy boukuns ook ten opsigte van sy infrastruktuur en sy relatief hoë prysvlak met ander groot stedelike sentra in Europa kan meeding. Riga het tot 'n belangrike sentrum van die inligtingstegnologie-, dienste- en modebedryf ontwikkel. Die stad is daarnaas 'n gewilde toeristebestemming met jaarliks 2,5 miljoen besoekers. Riga is saam met die Sweedse Umeå aangewys as die Europese Kultuurhoofstad van die jaar 2014.
Nogtans is daar ook baie inwoners uit laer inkomstegroepe wat tot dusver nie aan die ekonomiese opswaai kon deelneem nie. Hierdie groep sluit talle etniese Russe (in 2018 was 44,3 persent van die totale bevolking Letssprekendes teenoor 37,4 persent Russiessprekendes), voormalige werkers van Sowjet-fabrieke en bejaardes met lae pensioene in. 'n Groot aantal Rigaers van Russiese afkoms het die stad dan ook in die laaste jare verlaat om hulle weer in die Russiese Federasie te vestig. Riga se bevolking het gevolglik sedert die onafhanklikheidsverklaring met sowat 'n vyfde gekrimp.