Die term satelliet (afgelei van Latyn satelles, "lyfwagter") verwys in die ruimtevaart na 'n mensgemaakte voorwerp wat vir wetenskaplike, kommersiële of militêre doeleindes in 'n elliptiese of ronde wentelbaan om 'n ander voorwerp soos byvoorbeeld die aarde of die maan geplaas word.
Gravitasie trek die satelliet nader aan die primêre voorwerp, maar die satelliet beweeg in 'n ander rigting sodat die satelliet heeltyd die primêre voorwerp vermy. Die woord word oor die algemeen gebruik om 'n kunsmatige satelliet te beskryf (in teenstelling met natuurlike satelliete). Alle voorwerpe wat deel vorm van die sonnestelsel, insluitend die aarde, is natuurlike satelliete van die son, of satelliete van daardie voorwerpe, soos byvoorbeeld die maan, en word in 'n aparte artikel behandel.
Die wêreld se eerste kunsmatige satelliet, Spoetnik 1 is in 1957 deur die Sowjetunie gelanseer. Sedertdien is duisende satelliete in wentelbane om die aarde geplaas. Sekere satelliete, soos groot ruimtestasies, is al gelanseer in dele en dan herbou in die ruimte. Kunsmatige satelliete is al ontwikkel deur meer as 40 lande en 10 lande is tans in staat om satelliete te lanseer. Omtrent 'n duisend van die satelliete wat tans om die aarde wentel, is steeds operasioneel terwyl duisende nie-operasionele satelliete en afgebreekte stukke om die aarde wentel as ruimterommel. Daar is al ook satelliete om ander hemelliggame geplaas, soos byvoorbeeld die Maan, Mercurius, Venus, Mars, Jupiter, Saturnus, Eros, Vesta, Ceres[1] en die Son.
Omtrent 6600 satelliete is al gelanseer. Daar is onlangs geskat dat omtrent 3600 steeds wentel[2] terwyl net 1000 van daardie satelliete steeds operasioneel is.[3][4]