Seekoei

Seekoei
Hippopotamus amphibius
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Superorde:
Orde:
Familie:
Genus:
Hippopotamus

Linnaeus, 1758
Spesie:
H. amphibius
Binomiale naam
Hippopotamus amphibius
Linnaeus, 1758[2]
Verspreiding van die seekoei in die verlede (rooi) en hede (groen)[1]

Die seekoei (Hippopotamus amphibius) is 'n groot, oorwegend plantetende Afrika-soogdier, een van slegs twee bestaande spesies in die familie Hippopotamidae (vanaf Grieks: ἱπποπόταμος hippopotamos, waar hippos "perd" en potamos "rivier" beteken). Die naam "seekoei" was reeds by die Nederlandse volksplanting in Suid-Afrika deel van die Koloniaal-Nederlandse taalskat, soos opgeneem in die Daghregister van Jan van Riebeeck[3] (as zeekoe op 26 Oktober 1652) en die Duitse snydokter Johann Schreyer se reisverhaal, Neue Ost-Indianische Reisz-Beschreibung (1681).[4] Die ander spesie is die pigmie-seekoei.

Die seekoei is halfwaterliewend en woon in groepe van vyf tot veertig diere in riviere en mere in Afrika suid van die Sahara. Bedags verkoel hy homself deur in die water of modder te bly. Voortplanting en geboorte gebeur ook hier; met territoriale bulle wat waghou oor hulle stukkie water. Die diere verskyn teen skemer aan wal om gras te vreet. Hoewel groepsverband en -gebied in die water geld, wei seekoeie alleen op land, sonder beskerming van grondgebied.

Alhoewel hulle op varke en ander gelyktonige hoefdiere lyk, is hul naaste bestaande familie die setaseë (walvisagtiges, soos tornyne, bruinvisse, walvisse, ensovoorts). Die gedeelde voorvader van die walvisse en seekoeie het ongeveer sestig miljoen jaar gelede van die ander gelyktonige hoefdiere afgeskei. Die vroegste bekende seeikoeifossiele, van die genus Kenyapotamus in Afrika, dateer terug na ongeveer 16 miljoen jaar gelede.

Die seekoei is herkenbaar aan sy vaatjievormige borskas, enorme bek en tande, haarlose liggaam, stompiebene en geweldige grootte. Dit is ongeveer dieselfde grootte as die witrenoster; slegs olifante is deurgaans swaarder. Ten spyte van die bonkige vorm en kort bene kan 'n seekoei maklik vir 'n mens weghardloop (of stormloop). Teen kort afstande is 'n snelheid van 48 km per uur aangeteken, veel vinniger as 'n olimpiese naelloper. Die seekoei word beskou as Afrika se gevaarlikste soogdier en is van die wêreld se aggressiefste diere. Daar is nog 'n geskatte 125 000 tot 150 000 seekoeie regdeur Afrika (suid van die Sahara) oor, met die grootste bevolkings in Zambië (40 000) en Tanzanië (20 000–30 000).[1] Hulle bly bedreig as gevolg van wildstropery, vir hul vleis en ivoorslagtande, en as gevolg van die verlies van hul habitat. Hulle word deur die IUBN geklassifiseer as 'n kwesbare spesie.

  1. 1,0 1,1 1,2 (en) Lewison, R.; Oliver, W. (IUCN SSC Hippo Specialist Subgroup) (2008). Hippopotamus amphibius. 2008 IUBN Rooi Lys van bedreigde spesies. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur 2008. Verkry op 5 April 2009. Die databasisinskrywing bevat 'n verspreidingskaart en regverdiging vir die verwondbaarheidsbevinding.
  2. "ITIS on Hippopotamus amphibius". Integrated Taxonomic Information System (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Desember 2018. Besoek op 29 Julie 2007.
  3. (nl) etymologiebank.nl s.v. zeekoe
  4. (de) bl. 80 Das Wasser-Pferd / welches hier unrecht eine Seekuh genennet wird / ist auch ein sehr groß und schweres Thier...

Developed by StudentB