Senuwee | ||
Inligting en eksterne bronne | ||
Senuwees (geel) in die menslike arm. | ||
Inligting | ||
Latyn | Nervus | |
Eksterne bronne | ||
FMA | 65132 |
’n Senuwee is ’n omslote, kabelagtige bondel aksons (senuvesels, die lang, dun uitlopers van neurone) in die perifere senuweestelsel. ’n Senuwee bied ’n pad vir die elektrochemiese senuwee-impulse wat al met die aksons langs na die perifere organe gestuur word.
In ’n senuwee is elke akson omring deur ’n laag bindweefsel wat die "endoneurium" genoem word. Die aksons kom voor in groepe wat senuweebondels genoem word, en elke bondel is toe in ’n laag bindweefsel bekend as die "perineurium". Om die hele senuwee is nog ’n laag bindweefsel, die "epineurium".
Kommunikasie tussen die verskillende dele van die liggaam word deur die hormoon- en senuweestelsel bewerkstellig. Hormone werk gewoonlik langsaam en veroorsaak veranderinge wat lank aanhou; die senuweewerking is vinnig en omkeerbaar. Senuwees bring inligting van die buitewêreld (en van binne die liggaam) na die talle senuweeselle in die liggaam.
Die senuweeselle gee die inligting deur middel van senuweevesels deur na ander senuweeselle en uitvoerende organe soos spiere en kliere. Die senuwees vorm op hierdie manier 'n soort bedrading of geleidingstelsel deur die hele liggaam. Die senuweevoorsiening na 'n bepaalde orgaan of set word die senuwee-innervasie genoem. Senuwees word gevorm deur die lang uitlopers (senuweevesels, aksone) van senuweeselle.
Senuweevesels is omring deur bindweefsel wat daaraan 'n wit, draderige voorkoms gee. Die selliggame van die senuweeselle lê in die brein of rugmurg (dus in die sentrale senuweestelsel) of in senuweeknope (ganglia). 'n Senuwee wat in die brein ontspring of daarheen loop, word 'n kopsenuwee (kraniaalsenuwee) genoem. Senuwees wat van of na die rugmurg loop, word rugmurgsenuwees (spinaalsenuwees) genoem. Funksioneel (dit wil sê volgens die funksie wat dit verrig) kan die senuwees anders ingedeel word.