'n Sfinks (Grieks: σφίγξ, spʰíŋks) is 'n mitiese wese met die kop van 'n mens, die liggaam van 'n leeu en die vlerke van 'n valk.
In die Griekse tradisie het 'n sfinks die kop van 'n vrou, die lyf van 'n leeu en die vlerke van 'n voël. Sy is verraderlik en genadeloos, en sal enigiemand wat nie haar raaisel kan oplos nie doodmaak en eet.[1] Dié dodelike weergawe van 'n sfinks kom voor in die mite van Oidipus.[2]
Anders as die Griekse sfinks was die Egiptiese sfinks 'n man. Daarbenewens is die Egiptiese sfinks beskou as goedgunstig, maar met 'n boosaardige krag soortgelyk aan dié van die Griekse weergawe. Albei is as oppassers beskou en het dikwels die ingange na tempels bewaak.[3]
In Europese sierkuns het die sfinks gedurende die Renaissance 'n groot oplewing beleef. Later is die sfinksbeeld, aanvanklik baie soortgelyk aan die oorspronklike antieke Egiptiese begrip, na baie ander kulture uitgevoer, maar dit is dikwels anders vertolk vanweë die vertalings van die beskrywings van die oorspronklike en deur die evolusie van die begrip met betrekking tot ander kulturele tradisies.
Die uitbeelding van sfinkse word dikwels verbind met argitektoniese strukture soos koninklike grafte en godsdienstige tempels.