Met skolastiek word in die algemeen die middeleeuse filosofie bedoel (wat 'n sterk metafisiese karakter het) en spesifiek die onderrigmetode wat in die 11de eeu ontwikkel word in die stedelike kerkskole en verder uitgebou word in die 12de en 13de eeu aan die universiteite. Die basis daarvan bestaan uit 'n logiese uiteensetting van denke gefokus op teenstellings, dus 'n vorm van dialektiek. Die belangrikste denkers van die skolastiek was Petrus Abaelardus, Albertus Magnus, Johannes Duns Scotus, Willem van Ockham, Bonaventura en Thomas van Aquino. Die werk Summa Theologiae van Aquino word meestal gesien as die grootste werk van die skolastiek.