Spierstelsel

Die spiere van die liggaam, wat in organisasie by die verskillende diergroepe verskil, staan as 'n geheel bekend as die spierstelsel van die liggaam. Miologie behels die bestudering van die spierstelsel. Baie klein diertjies beweeg sonder enige spiere rond.

Oor die algemeen kan wel gesê word dat enige dier groter as ongeveer 6 mm hom deur middel van spierbewegings verplaas. Met die verloop van miljoene jare het effektiewe spiergebruik geleidelik toegeneem, wat bygedra het tot die ontwikkeling van ledemate by die werweldiere en geleedpotiges. By verskeie diere wat nooit ledemate ontwikkel het nie, word daar wel die een of ander voortbewegingsmeganisme aangetref. Skulpdiere en slakke byvoorbeeld verplaas hulle met behulp van ʼn spierplaat, wat 'n kruipsool genoem word.

Ringwurms beweeg voort deur middel van spierkontraksies van hul huidspiersak, wat 'n silinder van lengte- en sirkulêr lopende gladde spiervesels is en wat die met liggaamsvloeistof gevulde sentrale holte omring. Die liggaamsvloeistof funksioneer as 'n vloeistof- of hidrostatiese skelet. Sametrekking van spiere op 'n spesifieke plek lei via die vloeistofdruk tot spiersametrekking op 'n ander plek. By hierdie diere kan elke spiergedeelte as ʼn antagonis van die res van die spiere optree. 'n Kenmerk van hierdie en ander gladde spiere is dat dit sonder 'n drukverhoging ook in lengte meegee. Dit is ook van groot belang in ander organe van werweldiere, byvoorbeeld die gladde spier van die blaas van soogdiere en die mens.


Developed by StudentB