Stalinisme is die regeringstyl en verwante beleide wat deur Josef Stalin geïmplementeer is. Die Stalinistiese beleid in die Sowjetunie het die volgende ingesluit:
Stalinisme het klassekonflik aangeblaas, en het staatsgeweld gebruik om gemeenskappe op ’n gewelddadige wyse te suiwer van beweerde ondersteuners van die burgerstand (bourgeoisie). Die burgerstand is deur Stalinisme as ’n bedreiging beskou vir die kommunistiese rewolusie. Dit het aansienlik baie politieke geweld ontketen en die vervolging van mense tot gevolg gehad.[2] Dit was nie net mense van die burgerstand wat hieronder gely het nie, maar ook mense uit die werkersklas wat beskuldig is van teenrewolusionêre simpatieë.[3]
Die Stalinistiese industrialisering is ontwerp om die ontwikkeling na kommunisme te bespoedig en klem is daarop gelê dat snelle industrialisering noodsaaklik is omdat die land, in vergelyking met ander lande, ekonomies agter was. Daarom is die industrialisering van Rusland as uiters noodsaaklik beskou om die binnelandse sowel as die buitelandse vyande van kommunisme te beveg.[4] Die snelle industrialisering het gepaard gegaan met die reuse-kollektivisering van die landbou en vinnige verstedeliking.[5] Die vinnige pas waarteen die verstedeliking plaasgevind het, het baie klein dorpies in nywerheidstede laat ontpop.[5] Ten einde die ontwikkeling van die industrialisering te bespoedig het Stalin pragmaties te werk gegaan en Russiese sakeondernemings met groot Amerikaanse privaatmaatskappye, soos die Ford-motorvervaardiger, laat saamwerk. Onder die wakende oog van die staat het hierdie projekte in die 1920's en 1930's die basis van die Sowjet-ekonomie gelê.[6] Met die afhandeling van die Amerikaanse private ondernemings se betrokkenheid het die Sowjet-staatsondernemings oorgeneem.[6]