Stonewall-onluste

Die terrein van die Stonewall Inn tydens die LGBT Pride-naweek in 2016, ’n dag nadat president Barack Obama die stigting van die Stonewall- nasionale monument aangekondig het en minder as twee weke ná die skietery in die Pulse-nagklub in Orlando.

Die Stonewall-onluste of Stonewall-oproer was ’n reeks spontane, gewelddadige demonstrasies deur lede van die gay (LGBT)-gemeenskap[nota 1] teen ’n polisieklopjag in die vroeë oggendure van 28 Junie 1969 op die Stonewall Inn in die Greenwich Village-buurt van Manhattan, New York. Dit word algemeen beskou as die belangrikste voorval wat gelei het tot die gaybevrydingsbeweging[1][2][3] en die moderne stryd vir LGBT-regte in die VSA.[4][5]

Gay Amerikaners het in die 1950's en 1960's met ’n antigayregstelsel te doen gehad. Vroeë homofiele groepe (soos gay groepe genoem is) het probeer bewys dat gays in die gemeenskap opgeneem kon word en het opvoeding sonder konfrontasie vir beide homoseksuele en heteroseksuele voorgestaan. Die laaste jare van die 1960's was egter baie netelig omdat baie sosiale/politieke bewegings aktief was, insluitende die burgerregtebeweging, die kontrakultuur van die 1960's en die teenkanting teen die Viëtnamoorlog. Hierdie invloede, tesame met die liberale omgewing van Greenwich Village, het saam gelei tot die Stonewall-onluste.

In die 1950's en 1960's het baie min instellings mense verwelkom wat openlik gay was. Dié wat het, was gewoonlik kroeë, hoewel die eienaars en bestuurders selde gay was. In dié tyd was die Stonewall Inn in besit van die Amerikaanse Mafia.[6][7] Dit het alle soorte klante verwelkom en was gewild onder die armstes en die randfigure in die gay gemeenskap: fopdossers, transgender mense, verwyfde jong mans, butch lesbiërs, manlike prostitute en daklose jeugdiges.

Polisieklopjagte op gay kroeë was in die 1960's algemeen, maar by die Stonewall Inn het die polisie vinnig beheer verloor. Hulle het ’n skare gelok wat aangehits is om te rebelleer. Spanning tussen die polisie en gay inwoners van Greenwich Village het gelei tot hernude onluste die volgende aand, en weer ’n paar aande later. Binne weke het Village-inwoners in aktivistegroepe byeengekom om aan te dring op die reg van gays en lesbiërs om openlik oor hul seksuele oriëntasie te wees sonder die vrees om vervolg te word.

Ná die Stonewall-onluste het gender-, ras-, klas- en ander hindernisse gays en lesbiërs in New York gekeer om ’n verenigde gemeenskap te vorm. Binne ses maande is twee gay aktiviste-organisasies in New York op die been gebring wat op konfrontasietegnieke gekonsentreer het, en drie koerante is gestig om die regte van gays en lesbiërs te bevorder. Binne ’n paar jaar is verskeie gayregte-organisasies dwarsoor die VSA en die wêreld gestig. Op 28 Junie 1970 het die eerste Gay Pride-optogte in New York, Los Angeles, San Francisco[8] en Chicago plaasgevind om die onluste te gedenk. Soortgelyke optogte is in ander stede gereël. Vandag word Gay Pride-parades jaarliks teen einde Junie dwarsoor die wêreld gehou om die Stonewall-onluste te gedenk.[9]

’n Monument is in 2016 op die plek van die onluste opgerig.[10]


Verwysingfout: <ref> tags exist for a group named "nota", but no corresponding <references group="nota"/> tag was found

  1. "Brief History of the Gay and Lesbian Rights Movement in the U.S." (in Engels). University of Kentucky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 November 2019. Besoek op 2 September 2017.
  2. Nell Frizzell (28 Junie 2013). "Feature: How the Stonewall riots started the LGBT rights movement" (in Engels). Pink News UK. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Februarie 2020. Besoek op 19 Augustus 2017.
  3. "Stonewall riots" (in Engels). Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2020. Besoek op 19 Augustus 2017.
  4. U.S. National Park Service (17 Oktober 2016). "Civil Rights at Stonewall National Monument" (in Engels). Department of the Interior. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Mei 2020. Besoek op 6 Augustus 2017.
  5. "Obama inaugural speech references Stonewall gay-rights riots" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Oktober 2013. Besoek op 21 Januarie 2013.
  6. Duberman, p. 183.
  7. Carter, pp. 79–83.
  8. "Heritage | 1970 Christopher Street Liberation Day Gay-In, San Francisco" (in Engels). SF Pride. 28 Junie 1970. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2016. Besoek op 28 Junie 2014.
  9. "Pride Marches and Parades", in Encyclopedia of Lesbian, Gay, Bisexual, and Transgender History in America, Marc Stein, red. (2004), Charles Scribner's Sons.
  10. Nakamura, David; Eilperin, Juliet (24 Junie 2016). "With Stonewall, Obama designates first national monument to gay rights movement". Washington Post. Besoek op 24 Junie 2016.

Developed by StudentB