'n Strykkwartet is 'n musiekgroep bestaande uit vier strykers – twee vioolspelers, 'n altvioolspeler en 'n tjellis. Dit word ook gebruik om te verwys na 'n musiekstuk wat deur so 'n groep uitgevoer word. Die strykkwartet is een van die mees prominente kamermusiekensembles in klassieke musiek. Die meeste van die groot komponiste het vanaf die middel tot die laat 18de eeu bladmusiek vir strykkwartette gekomponeer.
Die strykkwartet is in die 1750s deur die Oostenrykse komponis Joseph Haydn ontwikkel en word sedertdien beskou as 'n gesogte musiekvorm. Dit is een van die moeilikste musiekvorms om te komponeer, en daar word gesê dat 'n komponis se ware musikale vermoë bepaal kan word deur hoe goed hy of sy musiek vir 'n strykkwartet kan skryf.[1]
Komponiste soos Wolfgang Amadeus Mozart, Ludwig van Beethoven en Franz Schubert het almal 'n aantal strykkwartette gekomponeert en dié musiekvorm het in die klassieke era floreer. Dit was minder gewild later in die 19de eeu, deels as gevolg van komponiste soos Franz Liszt, Richard Wagner en Richard Strauss, wat wegbeweeg het van klassieke vorms, maar dit word herleef in die 20ste eeu deur onder andere die Tweede Weense Skool, Béla Bartók, Dmitri Sjostakowitsj en Elliott Carter. In die 21ste eeu is dit steeds 'n belangrike en verfynde musiekvorm.
Die standaardstruktuur van 'n strykkwartet is vier bewegings, met die eerste beweging in sonatevorm, allegro, in die toniese sleutel; tweede beweging is 'n stadige beweging, in 'n verwante toonsoort; die derde beweging is 'n menuet en trio, in die toniese sleutel; en die vierde beweging is dikwels in rondovorm of sonate-rondovorm, in die toniese sleutel.
Sommige strykkwartette speel vir jare lank saam, en word dikwels genoem na die eerste violis (bv. die Takacs-kwartet), 'n komponis (bv. die Borodin-kwartet) of 'n plek (bv. die Budapest-kwartet).