Algemeen | |
---|---|
Naam | Ureum |
Ander name | karbonildiamied, karbamied |
Chemiese formule | (NH2)2CO |
Molêre massa | 60,06 g/mol |
CAS-nommer | 57-13-6 |
Fasegedrag | |
Smeltpunt | 132,7 °C |
Kookpunt | — |
Digtheid | 1,323 (rel water) |
Oplosbaarheid | opl. water |
Suur-basis eienskappe | |
pKa | |
Veiligheid | |
Flitspunt | |
LD50 | 8471 mg/kg (Rot; akuut, oraal)[1] |
Tensy anders vermeld is alle data vir standaardtemperatuur en -druk toestande. | |
Portaal Chemie |
Ureum, ook bekend as karbamied, is 'n organiese verbinding met chemiese formule (NH2)2CO. Hierdie amied het twee –NH2 groepe wat deur 'n karboniel (C=O) funksionele groep verbind word. Dit is die diamied van koolsuur.
Ureum speel 'n belangrike rol in die metabolisme van stikstofbevattende verbindings deur diere en is die belangrikste stikstofbevattende stof in die urine van soogdiere. Dit is 'n kleurlose, reuklose vaste stof, hoogs oplosbaar in water en is feitlik nie-giftig.[1] In water opgelos, is dit nie suur of alkalies nie. Die liggaam gebruik dit in baie prosesse, veral stikstofuitskeiding. Die lewer vorm dit deur twee ammoniakmolekules (NH3) met 'n koolstofdioksied-molekule (CO2) in die ureumsiklus te kombineer. Ureum word baie gebruik in kunsmis as stikstofbron en is 'n belangrike grondstof vir die chemiese industrie.
Die ontdekking in 1828 deur die Duitse chemikus Friedrich Wöhler dat ureum uit anorganiese uitgangsmateriaal geproduseer kan word was 'n belangrike konseptuele mylpaal in die chemie. Dit het vir die eerste keer getoon dat 'n stof, wat voorheen slegs as 'n neweproduk van die lewe bekend was, in die laboratorium gesintetiseer kon word sonder biologiese uitgangsmateriaal, wat in stryd was met die wydverspreide leerstelling van vitalisme, wat verklaar het dat slegs lewende dinge die chemikalieë van die lewe kan produseer.