In die ekologie is volhoubaarheid (van onderhou en vermoë) die eienskap van biologiese stelsels om onbepaald divers en produktief te bly. Langlewende en gesonde vleilande en woude is voorbeelde van volhoubare biologiese stelsels. In meer algemene terme is volhoubaarheid die uithouvermoë van die stelsels en prosesse. Die basiese beginsel vir volhoubaarheid is volhoubare ontwikkeling, wat die vier onderlinge terreine insluit van die ekologie, ekonomie, politiek en kultuur.[1] Volhoubaarheidswetenskap is die studie van volhoubare ontwikkeling en omgewingswetenskap.[2]
Volhoubaarheid kan ook gedefinieer word as 'n sosio-ekologiese proses wat gekenmerk word deur die nastreef van 'n gemeenskaplike ideaal.[3] 'n Ideaal is per definisie onbereikbaar binne 'n gegewe tyd en ruimte. Deur dit egter aanhoudend en dinamies te benader, is 'n volhoubare stelsel die uiteindelik resultaat.
Gesonde ekosisteme en omgewings is nodig vir die oorlewing van die mens en ander organismes. Maniere om die negatiewe menslike impak te verminder is omgewingsvriendelike chemiese ingenieurswese, die bestuur van omgewingshulpbronne en die beskerming van die omgewing. Inligting word verkry van groen chemie, aardwetenskap, omgewingswetenskap en bewarings-biologie. Ekologiese ekonomie bestudeer akademiese navorsing wat daarop gemik is om menslike ekonomieë en natuurlike ekosisteme te behandel.
Om in die rigting van volhoubaarheid te beweeg is ook 'n sosiale uitdaging wat die internasionale en nasionale reg, stedelike beplanning en vervoer, plaaslike en individuele lewenstyle en etiese verbruikerswese behels. Maniere om meer volhoubaar te lewe kan baie vorme aanneem, soos die herstrukturering van lewensomstandighede (bv., eko-dorpies, eko-munisipaliteite en volhoubare stede), die herwaardering van ekonomiese sektore (permakultuur, groen geboue, volhoubare landbou), of werks- praktyke (volhoubare argitektuur). Daar kan gebruik gemaak word van die wetenskap om nuwe tegnologie te ontwikkel (groen tegnologie, hernubare energie en volhoubare delings- en smeltingskrag), of deur die ontwerp van stelsels op buigsame en omkeerbare wyses,[4][5] en die aanpassing van individuele lewenstyle wat natuurlike hulpbronne bewaar.[6]
"Die term ‘volhoubaarheid’ moet gesien word as die mensdom se teikendoel van menslike ekosisteembalans (homeostase), terwyl ‘volhoubare ontwikkeling’ verwys na die holistiese benadering en temporale prosesse wat ons lei tot die eindpunt van volhoubaarheid."(305)[7] Ten spyte van die toenemende gewildheid van die term "volhoubaarheid", is en bly die moontlikheid dat menslike samelewings volhoubaarheid van die omgewing sal bereik 'n groot vraagstuk – gesien in die lig van die agteruitgang van die omgewing, klimaatsverandering, oorbenutting, bevolkingsgroei en samelewings se najaag van onbeperkte ekonomiese groei in 'n geslote stelsel.[8][9]
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)