Geen plant of dier kan vir ewig leef nie, daarom is een van die belangrikste lewensfunksies vir enige lewende organisme om ander lewende organismes, van dieselfde spesie, voort te bring voordat dit self doodgaan.
Voortplanting verbind een geslag met die volgende. Die oorlewing van spesies, sowel as die verskeidenheid wat in elke generasie voorkom, hang van voortplanting af. Gene word oorgedra na die nakomelinge gedurende voortplanting.
Gene beheer die eienskappe wat 'n organisme van sy ouers kry, byvoorbeeld die vorm van die ore en neus, die kleur van blare en blomme, ensovoorts. Die voorkoms van elke lewende organisme hang af van die genetiese materiaal wat oorgeërf is van die voorgeslagte. Daar is twee maniere waarop nuwe organismes voortgebring en gene oorgedra kan word, naamlik:
Naas voedselopname vorm die vermoë om nakomelinge voort te bring, die vernaamste kenmerk van lewende wesens. Tot nog selfs in die 19e eeu was die mensdom daarvan oortuig dat lewe in sommige gevalle uit dooie stof kan ontstaan (spontane generering). Louis Pasteur het eers in 1862 die onjuistheid van hierdie opvatting aangedui.
Benewens geslagtelike voortplanting - deur die versmelting van saadselle en eierselle - kan plante en diere nuwe individue deur middel van ongeslagtelike vermeerdering voortbring. Ongeslagtelike of vegetatiewe voortplanting kom dikwels by plante voor: steggies, bol- en knolvorming, ente, ensovoorts, is bekende voorbeelde hiervan. Die groot vrugbaarheid van lewende organismes is opvallend. Hoewel 'n groot aantal nakomelinge voortgebring word, bereik slegs ʼn klein aantal volwassenheid, sodat die getalle van die spesie in sy geheel in slegs geringe mate toeneem.
Hierdie verskynsel is die gevolg van die reguleringsmeganisme in die natuur. Voedsel mededinging en die aanwesigheid van roofdiere is vir die vroegtydige afsterwe van 'n groot deel van die kleintjies verantwoordelik. Hierdie natuurlike reguleringsmeganisme is by slegs die mens uitgeskakel, sodat daar sprake van oorbevolking by hom ontstaan.