Wes-Afrika of Westelike Afrika is die westelike gedeelte van die kontinent van Afrika. Die presiese gebied word nie altyd presies dieselfde afgebaken nie. Wes-Afrika (ongeveer 5,1 miljoen km² en meer as 380 miljoen inwoners) is suid van die Sahara en wes van Kameroen geleë. Tussen die 11de en die 16de eeu het groot koninkryke oor die gebied geheers.
Hul bloei was te danke aan die handel met die Arabiere wat deur die Sahara na die savannes getrek het. Die koms van die Europeërs en die verowering van Noord-Afrika deur die Turke het 'n einde aan sowel die koninkryke as die handel gemaak. Aan die einde van die 19de eeu was die grootste deel van Wes-Afrika in Britse en Franse besit.
Die 16 onafhanklike lande wat weens die dekolonisasie ná die Tweede Wêreldoorlog tot stand gekom het, verskil grootliks wat inwonertal, oppervlakte en ekonomiese potensiaal betref. In 'n paar gevalle is die bestaansmoontlikhede twyfelagtig en Wes-Afrika kan oor die algemeen as een van die armste gebiede ter wêreld beskou word. Die pogings tot ekonomiese samewerking tussen die lande word bemoeilik deur talle faktore, waarvan die meeste ’n erfenis van koloniale oorheersing is.
Politieke wrywing speel egter ook ’n belangrike rol. Die 16 lande van Wes-Afrika is Nigerië, Ghana, Ivoorkus, Niger, Senegal, Sierra Leone, Burkina Faso, Togo, Benin, Liberië, Guinee, Guinee-Bissau, Gambië, Mali, Mauritanië en Kaap Verde. Die gebied wat as Wes-Afrika aangedui word, is suid van die Sahara en wes van Kameroen geleë. Afgesien van Liberië was al die lande wat deel uitmaak van die gebied, voorheen Britse, Franse of Portugese kolonies.
Die gebied word op natuurlike wyse begrens deur die Atlantiese Oseaan, Kameroenberg (4 070 m) en die Adamawa-hoogland (tot 2 400 m). Die hoogland word ooswaarts tot in die Soedan en noordwaarts tot in Libië en Algerië voortgesit. Wes-Afrika bestaan uit 'n gebied langs die kus (0–200 m) en 'n agterland wat nêrens hoër as 500 m bo seespieël is nie.
Die reliëf is beperk tot die Bauchi- en die Jos-plato (tot 2 010 m) in Nigerië en die Futa Dalon (hoogste punt Jurugal, 1 515 m) en die Lomagebergte (1 948 m) in Guinee. Wes-Afrika het 'n moesonklimaat. Die temperatuur wissel deur die jaar van 25 tot 30 °C. Tussen November en Mei is dit oorwegend droog en dan waai die harmattan soms. Dit is 'n relatief keel, droë wind wat in die warm, vogtige kusgebied (2 000–3 000 mm reënval per jaar) as die "dokter" bekend staan. In die binneland is die harmattan dikwels belaai met stof en sand en kan dit baie onaangenaam wees. Die reënseisoen, waartydens die aanlandige suidwesmoeson waai, is tussen Mei en November. Na die binneland neem die reënval geleidelik af. Tussen die savannegebied en die woestyn is die sogenaamde Sahelsone, die noordelike deel van Wes-Afrika, wat berug is vir die langdurige droogtes wat soms daar voorkom.
Die groot riviere in Wes-Afrika is die Niger, die Volta, die Sénégal en die Gambië. In die noordelike dele is die riviere van lewensbelang omdat die landerye daaruit besproei word. Die riviere is ook die belangrikste verkeersweë en sal dit nog 'n lang tyd wees. Die infrastruktuur is baie beperk en byna uitsluitlik op die kusgebiede gerig. Wes-Afrika bestaan uit 16 lande met landbouekonomieë. Vyf van die lande tel onder die 29 armste lande ter wêreld.
Die jong lande, met groot interne politieke en ekonomiese probleme, is genoodsaak om saam te werk. Die riviere, wat vir besproeiing en die ontwikkeling van energie gebruik kan word, loop deur verskillende lande. Om die riviere ten volle te beheer en te benut, sal hulle hul politieke en ander konflikte opsy moet skuif en saamwerk. Dieselfde geld vir die ontginning van die grondstowwe. Wes-Afrika beskik oor twee derdes van die wêreld se bauxietreserwes (Guinee), Ghana is die wêreld se voorste kakao-produsent en die Ivoorkus die vierde, Sierra Leone het diamante, Nigerië ruolie en Liberië yster. Die Ekonomiese Kommissie vir Afrika het voorgestel dat yster- en staalwerke in Liberië opgerig word vir voorsiening aan al die lande van Wes-Afrika, maar die plan is in die wiele gery deur die ander lande se wens om elkeen sy eie klein yster en staalfabriek te hê.