Yshokkie

Piktogram wat Yshokkie aandui
'n Yshokkiebaan in Örnsköldsvik, Swede
Yshokkiespeler Joffrey Lupul

Yshokkie is 'n spansport wat deel is van die hokkiefamilie van sportsoorte. Dit word meestal in Kanada, die noorde van die VSA en in Europa gespeel. Dit is bekend as 'n baie gewelddadige en vinnige sport. Die spelers trek baie beskermende klere aan wat daartoe lei dat die spelers nog harder speel.

Die spel word in drie 20-minute-blokke verdeel, maar gelykoptellings kan tot verdere blokke se ekstratyd lei. Na elke blok wissel die spanne kante en in die ekstratydblokke, bekend as 'n valbyl ("sudden death"), wen die span wat eerste 'n doel aanteken. Daar is verskillende maniere om 'n gelykoptelling te hanteer in die verskillende wêrelddele.

Yshokkie word deur 2 spanne van 6 spelers elk, wat met behulp van skaatse op ys voortbeweeg, gespeel. 'n Plat, ronde rubberskyf word deur die spelers met yshokkiestokke oor die ys geskuif of geslaan met die doel om dit in die teenstanders se doelhok te kry. Die sport, wat in omstreeks 1860 in Kanada ontstaan het, word as die vinnigste spanspel ter wêreld, maar ook as een van die gevaarlikste sportsoorte, beskou.

Dit word toenemend gewild in verskeie lande en vorm sedert 1920 'n onderafdeling van die Olimpiese Spele. Yshokkie het in Kanada ontstaan, maar dit het waarskynlik uit een van die Europese veldsporte wat met ʼn stok gespeel word, ontwikkel. Dit is heel moontlik ook beïnvloed deur bandy, 'n balsport wat deur 2 spanne van 11 skaatsers op 'n ysveld so groot soos 'n sokkerveld (sander speelruimte agter die doele) gespeel word.

Laasgenoemde het aan die einde van die 18e eeu in Engeland ontstaan en is tot met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog gespeel, gedurende tye toe weerstoestande sokker onmoontlik gemaak het. Die spel word derhalwe in sommige lande soos Skandinawië, Mongolië en die Sowjetunie wintersokker genoem. Yshokkie het waarskynlik in 1860 ontstaan toe Engelse militêre vir die eerste keer in Kanada 'n wedstryd met 'n plat, ronde skyf op die veryste water in die hawe van Kingston, Ontario, gespeel het.

Die baanbrekers op die gebied van die sport, W.F. Robertson en R.F. Smith, albei studente aan die McGill-universiteit in Montreal, het in 1879 'n aantal reëls daarvoor opgestel. Daarna het yshokkie vinnig gewild geraak, veral in die VSA en Kanada. Die belangstelling in die spel is ook in 1895 in Engeland aangewakker in 'n wedstryd waarin Edward VII en George V (later albei konings van Engeland) teen 'n span gespeel het wat bestaan het uit 5 seuns van die goewerneur-generaal van Kanada, lord Stanley, na wie die Stanley Cup (sedert 1893 die kampioenskapsbeker van die Kanadese professionele yshokkie) vernoem is. Teen die tyd is die spel nie meer net op natuurlike ysvelde gespeel nie, maar is kunsmatige yshokkievelde ook aangelê.

In 1908 is die Ligue Internationale de Hockey sur Glace (later die International Ice Hockey Federation; IIHF) deur Groot-Brittanje, Frankryk, Switserland, Boheme (teenswoordige Tsjeggo-Slowakye) en België gestig. Die eerste Europese kampioenskap is in 1910 in Les Avants in die Switserse Alpe gehou en is deur Engeland gewen. In 1920 het die sport ʼn onderafdeling van die Olimpiese Spele geword.

Voor die Tweede Wêreldoorlog was Engeland die voorste yshokkieland in Europa - in 1936 tydens die Winterspele by Garmisch-Partenkirchen het die Engelse span selfs die onoorwonne Kanadese verslaan. Namate yshokkie in verskeie ander lande gewild geraak het, het veral die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye, gevolg deur Finland en Swede, na die Tweede Wêreldoorlog gedugte teenstanders van die Kanadese geword.

Yshokkie word as die vinnigste spansport ter wêreld beskou en die skyf word dikwels so vinnig geslaan dat nie eens die toeskouers dit met die oog kan volg nie. Rooi ligte begin flits sodra 'n doel aangeteken word, omdat die skyf dikwels so vinnig in die doelhok geslaan word dat die toeskouers, en soms selfs die doelwagter, dit nie eens sien nie. Yshokkie is boonop een van die gevaarlikste sportsoorte en die spelers dra derhalwe beskermende klere en toerusting ten einde beserings te voorkom.

Valhelms, knie- en skeenskutte, asook skerms vir die elmboë en skouers en dik handskoene en lang kouse word tydens die spel gedra. Die doelwagters dra selfs gesigskerms, borsskerms en baie dik beenskutte.


Developed by StudentB