Die Zaroebintsi-kultuur was 'n kultuur wat van die 3de eeu v.C. tot die 1ste eeu n.C. floreer het in die gebied noord van die Swartsee, aan die bo- en middel-Dnjepr- en Pripjatrivier. Zaroebintsi-terreine was veral dig bymekaar tussen die Desna- en Rosrivier, sowel as aan die Pripjat. Dit is omstreeks 1899 deur die Tsjeggies-Oekraïense argeoloog Wikenti Chwoika geïdentifiseer en omvat nou sowat 500 terreine. Die kultuur is genoem na ontdekkings van veraste oorblyfsels op die dorp Zaroebintsi aan die Dnjepr.
Die Zaroebintsi-kultuur was moontlik verwant aan die pre-Slawiese voorouers van vroeë Slawiërs (proto-Slawiërs),[1] en het moontlike bande gehad met die volke van die Dnjeprbekken.[2][3] Dit is beïnvloed deur die La Tène-kultuur en die nomades van die steppe (die Skitiërs en Sarmate). Die Skitiese en Sarmatiese invloed is veral sigbaar in erdewerk, wapens en huishoudelike en persoonlike artikels.