Aftrede is die beëindiging van 'n mens se beroep of uittrede uit 'n posisie. Dit dui op uittrede van 'n mens se aktiewe werkslewe.[1] 'n Persoon kan ook semi-aftree deur werksure of werklading te verminder.
Baie mense kies om af te tree wanneer hulle bejaard is, of weens gesondheidsredes nie in staat is om hul werk te doen nie. Mense kan ook aftree wanneer hulle vir private of openbare pensioenvoordele in aanmerking kom, alhoewel sommige gedwing word om af te tree wanneer liggaamlike toestande die persoon nie toelaat om meer te werk nie (deur siekte of ongeluk) of as gevolg van wetgewing rakende hul poste.[2] In die meeste lande is die idee van aftrede van onlangse oorsprong, wat gedurende die laat-negentiende en vroeë-twintigste eeue bekendgestel is. Voorheen het lae lewensverwagting, gebrek aan maatskaplike sekerheid en die afwesigheid van pensioenreëlings beteken dat die meeste werkers tot hul dood aanhou werk het. Duitsland was die eerste land wat aftreevoordele in 1889 ingestel het.[3]
Deesdae het die meeste ontwikkelde lande stelsels om pensioene by aftrede weens ouderdom te voorsien, wat deur werkgewers of die staat befonds word. In baie armer lande is daar geen ondersteuning vir bejaardes buiten dit wat deur die gesin verskaf word nie. Vandag word aftrede met 'n pensioen in baie samelewings as 'n reg van die werker beskou; harde ideologiese, sosiale, kulturele en politieke gevegte is gevoer oor of dit 'n reg is. In baie Westerse lande is dit 'n reg wat in nasionale grondwette beliggaam is.
'n Toenemende aantal individue kies om hierdie punt van totale aftrede uit te stel deur te kies om in die opkomende toestand van voor-aftrede te bestaan.[4]