Albedo of refleksiekoëffisiënt is die verhouding van die weerkaatste straling van die oppervlak van ’n voorwerp af tot die hoeveelheid straling wat daarop val. Dit is afgelei van die Latynse woord albedo ("witheid" of "weerkaatste sonlig"), wat op sy beurt afgelei is van albus ("wit"). Dit is dus die weerkaatsende krag van ’n oppervlak. Dit word gemeet op ’n skaal van nul vir geen weerkaatsing van ’n algehele swart oppervlak tot 1 vir die perfeke weerkaatsing van ’n wit oppervlak, en kan ook in persentasie uitgedruk word.
Die albedo is ’n belangrike begrip in weerkunde en sterrekunde. Die algehele albedo van die Aarde is 30 tot 35% vanweë die wolke in die atmosfeer, maar verskil op die oppervlak omdat dit afhang van geologiese en omgewingseienskappe.[1]
Die term is deur Johann Heinrich Lambert begin gebruik in sy werk Photometria van 1760.