Die algemene relatiwiteitsteorie is ’n meetkundige teorie van swaartekrag wat in 1916 deur Albert Einstein gepubliseer is.[1][2] Dit is die huidige beskrywing van swaartekrag in die moderne natuurkunde. Die algemene relatiwiteitsteorie veralgemeen die spesiale relatiwiteitsteorie en Newton se Swaartekragwet. Dit beskryf swaartekrag as ’n meetkundige eienskap van ruimte en tyd (ook genoem ruimtetyd). ’n Massa trek die ruimte rondom hom krom, waardeur dit lyk of die massa ander massas aantrek.
Baie voorspellings van die algemene relatiwiteitsteorie verskil aansienlik van dié van die klassieke natuurkunde, veral met betrekking tot die verloop van tyd, die meetkunde van die ruimte, die beweging van liggame in vrye val en die voortplanting van lig. Al die voorspellings van die teorie is al in waarnemings en eksperimente bevestig. Hoewel dit nie die enigste relatiwiteitsteorie van swaartekrag is nie, is dit die eenvoudigste een wat ooreenstem met eksperimentele data.
Einstein het onder meer reg voorspel dat lig van ver sterre wat naby die son se gesigsveld lê, deur die son afgebuig word. Hoewel fotone geen rusmassa besit nie, is hulle volgens die verhouding E = hν van Max Planck ’n vorm van energie. Vanweë Einstein se formule vir massa-energieverband, E = mc2, is energie en massa gelyk en trek die son se swaartekragveld lig aan. Dit word beskou as ’n verfyning van die voorheen bekende swaartekragwet van Isaac Newton.