Gedurende die 5de eeu v.C. het Athene 'n ongekende bloeitydperk beleef. Dit kan veral toegeskryf word aan die wyse regering van Perikles, wat langer as dertig jaar die leisels in die hande gehou en die Atheense Ryk en kultuur op elke gebied uitgebou het. Maar oral het jaloerse bure, soos die Spartane en die Korinthiërs, op hul kans gewag, en toe Perikles in 429 v.C. tydens 'n pesepidemie sterf, was Athene soos 'n skip sonder roer. Sy opvolgers was swak. Hulle het Athene in onnodige oorloë gedompel, en die mense het 'n nuwe leier gesoek wat hul verbeelding kon aangryp. Teen hierdie agtergrond het Alkibiades na vore getree. Die eindelose oorloë en die dood van Perikles het Athene uitgeput, en in 420 v.C. kies die Atheners die jong Alkibiades as een van die tien bevelhebbers oor hul leër. Hierdie keuse sou rampspoedige gevolge hê, maar wie kan die Atheners daarvoor blameer dat hulle nie bestand was teen die persoonlikheid van hierdie aantreklike, dapper en intelligente jong man nie? Hoewel hy voortvarend en astrant was, het die hele Athene sy welsprekendheid, sy vinnige brein en sy geestigheid bewonder.
Alkibiades is omstreeks 450 v.C. in Athene gebore. Sy moeder was 'n niggie van Perikles, en na die dood van Alkibiades se vader het die seun in Perikles se huis grootgeword. Perikles het baie van hom gehou; maar hy en Sokrates, die beroemde denker, het tevergeefs probeer om die jong man se vele talente in die regte rigting te stuur. Toe Alkibiades in 420 v.C. tot generaal verkies word, het Athene pas met Sparta vrede gesluit. Maar Sparta se bondgenote was nie gediend met die vredesvoorwaardes nie, en Alkibiades het alles in sy vermoë gedoen om onrus te stook. Hy het die Atheners oorgehaal om 'n verbond met Argos, Sparta se ou vyand, te sluit, in die hoop dat dit hom die geleentheid sou bied om 'n groot Atheense leër in die Peloponnesos (‘n skiereiland in Suid-Griekeland), aan te voer. Nikias, sy mededinger in Athene, het hom egter daarvan beskuldig dat hy onnodige twis veroorsaak. In 418 v.c. is Alkibiades dan ook nie as generaal herkies nie, en Sparta het die Atheners en hul bondgenote beslissend by Mantenia verslaan.