Amsterdam | |
---|---|
Munisipaliteit (gemeente) | |
Amsterdamse besienswaardighede | |
Byname: "Mokum", "Venesië van die noorde" | |
Leuse(s): Heldhaftig, Vastberaden, Barmhartig (Nederlands vir: "Heldhaftig, Vasberade, Barmhartig") | |
Ligging van Amsterdam in Noord-Holland en Nederland | |
Koördinate: 52°22′N 4°54′O / 52.367°N 4.900°O | |
Land | Nederland |
Provinsie | Noord-Holland |
Eerste verwysing (Amestelledamme) | 27 Oktober 1275 |
Stadsregte | ca. 1342 |
Regering | |
• Tipe | Munisipale raad |
• Burgemeester | Femke Halsema (GroenLinks) |
Oppervlak | |
• Munisipaliteit (gemeente) | 219,32 km2 (84,68 vk. myl) |
• Land | 165,76 km2 (64,00 vk. myl) |
• Water | 53,56 km2 (20,68 vk. myl) |
• Randstad | 3 043 km2 (1 175 vk. myl) |
Hoogte | –2 m (–7 ft) |
Bevolking | |
• Munisipaliteit (gemeente) | 921 402 |
• Digtheid | 5 206/km2 (13 480/vk. myl) |
• Stedelik | 1 459 402 |
• Metro | 2 480 394 |
• Randstad | 8 116 000 |
munisipaliteit, 2022; randstad, 2019; stedelike gebied, 2022; metropolitaanse gebied, 2022 | |
Tydsone | UTC+01:00 (MET) |
• Somertyd | UTC+02:00 (MEST) |
Poskode | 1000–1183 |
Skakelkodes | 020 |
Webwerf | amsterdam.nl |
Amsterdam (Nederlands: [ɑmstərˈdɑm], ) is die titulêre hoofstad en volgens bevolking die grootste stad van die Koninkryk der Nederlande. Amsterdam, in die plaaslike Amsterdamse dialek ook Mokum (afgelei uit Jiddisj vir "plek" of "stad"; Hebreeus: מָקוֹם, Makom[6]) genoem, is in die westelike provinsie Noord-Holland aan die IJ- en die Amstel-riviere geleë. Die munisipaliteit Amsterdam het 'n bevolking van 918 000 (Januarie 2023, CBS) en Groot-Amsterdam het in 2023 'n bevolking van 1 456 000 gehad.[7] Die aantal verskillende nasionaliteite in die munisipaliteit is van die hoogste in die wêreld.[8][9] Alhoewel die regeringsetel en die Koninklike woning in Den Haag, sowat 60 km verder wes geleë is, is Amsterdam volgens die Nederlandse grondwet van 1983 die amptelike hoofstad van Nederland.[10]
Amsterdam het sy naam te danke aan 'n dam wat in die 13de eeu in die Amstel opgerig is, en sy oorsprong lê in 'n 12de-eeuse klein vissersdorpie. Die plek het kort na 1300 stadsregte ontvang, in 1345 as gevolg van die Mirakel van Amsterdam 'n pelgrimsoord geword, tydens die Goue Eeu tot een van die belangrikste hawe- en handelstede ter wêreld gegroei en 'n leidende sentrum van handel en finansies geword.[11] 'n Toestroming aan buitelanders uit veral die Suidelike Nederland, Duitsland en die Skandinawiese lande het vanaf die einde van die 16de eeu tot staduitbreidinge gelei, waaronder die laaste gragte van die vesting wat nou as die gragtegordel bekend is. Gedurende die 19de en 20ste eeue het die stad uitgebrei en baie nuwe buurte en voorstede is beplan en gebou. Beide die 17de-eeuse Amsterdamse gragtegordel[12] en die 19de-eeuse Stelling van Amsterdam[13] is deur Unesco as wêrelderfenisgebiede erken. Weens sy gragte word Amsterdam ook Venesië van die noorde genoem.[14][15] Sloten, wat in 1921 by die munisipaliteit Amsterdam ingelyf is, is die oudste deel van die stad, en dateer uit die 9de eeu.
Amsterdam is die ekonomiese sentrum van Nederland en een van die finansiële sentrums in Europa, die stad word deur die studiegroep Globalization and World Cities as 'n alfa-wêreldstad beskou. Daarbenewens is die stad die kulturele sentrum van Nederland. Baie belangrike Nederlandse instellings is hier gesetel, insluitende Philips, AkzoNobel, TomTom en ING.[16] Van die wêreld se grootste maatskappye is in Amsterdam gesetel of het hul Europese hoofkwartier in Amsterdam, insluitende leidende tegnologiemaatskappye soos Uber, Netflix en Tesla.[17] In 2012 is Amsterdam deur die Economist Intelligence Unit (EIU) as die naasbeste lewensbare stad benoem[18] en volgens Mercer die 12de wêreldwyd wat lewenskwaliteit rakende omgewing en infrastruktuur betref.[19] Die stad is wêreldwyd op die vierde plek as top-tegnologiese spilpunt in die Savills Tech Cities 2019-verslag (en tweede in Europa),[20] en derde volgens innovasie in die Australiese innovasie-agentskap 2thinknow se Innovasiestede-indeks 2009.[21] Die Amsterdam-hawe is die vyfde grootste hawe in Europa.[22] Lughawe Schiphol is die besigste lughawe in Nederland en – net na Londen (Lughawe Londen-Heathrow) en Parys (Lughawe Parys-Charles de Gaulle) – die derde besigste in Europa. Die Amsterdamse Effektebeurs is die oudste effektebeurs ter wêreld.
Besienswaardighede en aantreklikhede in Amsterdam sluit in sy gragte, Rijksmuseum, Stedelike Museum, Van Gogh Museum en Skeepvaartmuseum, Anne Frank-huis, Suid-Afrika Huis, Concertgebouw, Hermitage Amsterdam, Amsterdamse Museum, Musiekgebou aan 't IJ en EYE Filmmuseum, dieretuin Artis, Wallen, Heineken Experience, Koninklike Paleis, Natura Artis Magistra, Hortus Botanicus Amsterdam, NEMO, die rooiligdistrik en die koffiewinkels. Van die bekende Amsterdamse inwoners sluit in die dagboekskrywer Anne Frank, die skilders Rembrandt en Van Gogh, en die filosoof Baruch Spinoza. Die stad beskik oor twee universiteite (Universiteit van Amsterdam en Vrije Universiteit Amsterdam) en 'n aantal kolleges. Daarbenewens staan Amsterdam bekend vir sy gragte, sy verdraagsaamheid teenoor ander kulture en sy liberale atmosfeer. Die stad se eeue-oue multikulturele samelewing geniet wêreldwye aansien. Dit is ook een van die wêreld se meeste multikulturele stede, aangesien meer as 177 verskillende nasionaliteite in Amsterdam woon.[23] Amsterdam lok jaarliks sowat 5 miljoen internasionale toeriste.[24] Die stad is ook bekend vir sy naglewe en feesaktiwiteite; van sy nagklubs (bv. Melkweg, Paradiso) is onder die wêreld se bekendstes.