Arecibo-boodskap

Die boodskap is op dié afbeelding ingekleur om die aparte onderdele daarvan te demonstreer. Die oorspronklike boodskap bevat nie enige kleurinligting nie.

Die Arecibo-boodskap is ’n radioboodskap wat in 1974 die ruimte ingestuur is met die heropening van die Arecibo-radioteleskoop in Puerto Rico.[1] Die boodskap is gerig op die sterreswerm Messier 13, sowat 25 000 ligjare van die Aarde af. Wanneer dit sy bestemming bereik, sal M13 nie meer in daardie deel van die ruimte wees nie.[2]

Die boodskap bestaan uit 1 679 bis wat uitgestuur is op ’n frekwensie van 2 380 MHz en frekwensiegemoduleer met 10 Hz. Die volledige sein het drie minute geduur en is nie herhaal nie.[3] Die getal 1 679 is gekies omdat dit ’n semipriemgetal is, en daarom kon dit opgedeel word in 23 rye en 73 kolomme, of 73 rye en 23 kolomme. Wanneer die inligting op die eerste manier gerangskik word (23 rye, 73 kolomme) word onsin geproduseer, maar wanneer dit op die tweede manier gerangskik word (73 rye, 23 kolomme), word die afbeelding regs gevorm – daar word veronderstel dit sal as data herkenbaar wees. (Die kleure is net ter verduideliking; die oorspronklike boodskap bevat geen kleur nie.)

’n Mens kan die afbeelding in verskillende dele opdeel (gelees van bo na onder en van links na regs):

  1. Die getalle een (1) tot en met tien (10).
  2. Die atoomgetalle van die elemente waterstof, koolstof, stikstof, suurstof en fosfor. Dié atome is die boustene van deoksiribonukleïnesuur (DNS).
  3. Die formules van die koolhidrate en die basisse in die nukleotides van DNS.
  4. Die aantal nukleotides in DNS en ’n grafiese voorstelling van die dubbele heliksstruktuur van DNS.
  5. ’n Grafiese voorstelling van die figuur van ’n mens, die afmetings van ’n gemiddelde mens en die bevolking op Aarde.
  6. ’n Grafiese voorstelling van die Sonnestelsel waartoe die Aarde behoort.
  7. ’n Grafiese voorstelling van die Arecibo-radioteleskoop en die deursnee van die antenneskottel.

Aangesien dit 25 000 jaar sal duur voor die boodskap sy bestemming bereik (en nog 25 000 jaar voor ’n antwoord gekry kan word) is die Arecibo-boodskap eerder ’n demonstrasie van tegnologie as ’n egte poging om met buiteaardse lewe kontak te maak.[1]

Die boodskap is geskryf deur dr. Frank Drake (wat die bekende Drake-vergelyking opgestel het) met die hulp van onder andere Carl Sagan.[1]

  1. 1,0 1,1 1,2 "Cornell News: It's the 25th anniversary of Earth's first (and only) attempt to phone E.T." (in Engels). 12 November 1999. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Januarie 2013. Besoek op 29 Maart 2008.
  2. Larry Klaes (30 November 2005). "Making Contact". Ithaca Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Januarie 2009. Besoek op 27 Julie 2007.
  3. Jay M. Pasachoff. "Chapter 20: Life in the Universe". Astronomy: From the Earth to the Universe (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Oktober 2010. Besoek op 5 Mei 2007.

Developed by StudentB