Aristoteles | |
Aristoteles soos voorgestel deur Rafaël in sy fresko, Die Atheense Skool. Aristoteles bedui af na die grond toe, om sy vertroue in die krag van empiriese ondersoek en werklike ondervinding te wys. In sy hand hou hy 'n kopie van een van sy boeke, die Ethica Nicomachea.
| |
Gebore | 384 v.C. Stagira, Chalcidice (Chalkidiki), noordelike Griekeland |
---|---|
Oorlede | 322 v.C. Euboea, Griekeland |
Nasionaliteit | Antieke Griekeland |
Vakgebied | Biologie, dierkunde, fisika, metafisika, logika, etiek, retoriek, musiek, gedigte, teater, politiek, regering |
Beïnvloed deur | Parmenides, Sokrates, Plato, Herakleitos, Demokritos |
Invloed op | Feitlik al die daaropvolgende Westerse filosofie, Christelike filosofie en pre-Verligting wetenskap; ook baie Islamitiese en Joodse filosofie. |
Aristoteles (Grieks: Ἀριστοτέλης Aristotélēs) (Stageira, 384 v.C. – Chalkis, 322 v.C.) was 'n antieke Griekse filosoof en wetenskaplike wat 'n groot invloed op Westerse denke gehad het. Hy was 'n student van Plato en eens 'n onderwyser vir Aleksander die Grote. Sy talle geskrifte fokus op onderwerpe soos die wetenskap, politiek, moraliteit en literatuur.[1]
Saam met Sokrates en Plato word hy as een van die belangrikste stigtersfigure van westerse filosofie beskou. Hy het oor 'n menigte velde geskryf, onder andere fisika, metafisika, digkuns, teater, musiek, logika, retoriek, politiek, regering, etiek, plantkunde en dierkunde, en was 'n gesaghebbende figuur in al hierdie velde reg deur die antiekheid en die middeleeue.
In filosofie loop sy invloed nog sterk: hy was die eerste kenner om 'n omvattende stelsel van filosofie te skep, wat geloop het van metafisika deur wetenskap na praktiese filosofie, en die eerste om 'n formele studie van logika weer te gee; sy etiek is vandag nog 'n onderwerp van akademiese ondersoek. Sy metafisika was van enorme belang vir middeleeuse teologie en filosofie, en dra nog steeds gewig in die voorgenoemde veld, en vir die skolastieke tradisie in die Rooms-Katolieke Kerk.