’n Ashelling in sterrekunde is die hoek tussen ’n voorwerp se rotasie-as en sy wentelas, of die hoek tussen sy ewenaarvlak en wentelvlak (die sonnebaan in ons sonnestelsel).[1] As die helling zero is, wys die twee asse in presies dieselfde rigting; die rotasie-as is dus loodreg op die wentelvlak.
In die loop van ’n wenteling verander die helling gewoonlik nie veel nie en die oriëntasie van die as bly dieselfde met betrekking tot die agtergrondsterre. Dit bring mee dat een pool aan ’n sekere kant van die wentelbaan meer na die Son oorhel en die ander pool aan die ander kant van die wentelbaan – dit veroorsaak die seisoene op Aarde. Die Aarde se ashelling wissel tussen 22,1 en 24,5 grade oor ’n siklus van 41 000 jaar. Dit is tans 23°26′13,7″ (of 23,43714°) en aan die afneem.