| |||||
Hoofstad | Ponta Delgada | ||||
Oppervlak – Totaal – % van Portugal |
Gelys 10de 2 334 vk km 1,5% | ||||
Bevolking – Totaal (2001) – % van Portugal – Bevolkingsdigtheid |
Gelys 9ste 241 736 2,5% 104/vk km | ||||
Statuut van Selfregering | 1976 | ||||
ISO 3166-2 | PRT | ||||
President van die streeksregering | Vasco Cordeiro | ||||
Governo Regional dos Açores |
Die Asore (ook Asoriese Eilande genoem; Portugees: Ilhas dos Açores [ɐ'soɾɨʃ], "Hawikseilande") is 'n eilandgroep van vulkaniese oorsprong, geleë in die noordoostelike Atlantiese Oseaan tussen die vastelande van Noord-Amerika en Europa, op dieselfde breedtegraad as die Portugese hoofstad Lissabon. Die argipel het sy naam aan die rykdom van voëls te danke, alhoewel die spesie, wat Portugese ontdekkers hier waargeneem het, heel waarskynlik jakkalsvoëls en nie hawikke (Portugees: açores) was nie.
Die nege eilande, wat 'n outonome gewes (Portugees: Região Autónoma dos Açores) van die Republiek Portugal met 'n eie parlement en regering vorm, het 'n oppervlakte van 2 333 km², met 'n eksklusiewe ekonomiese sone wat oor 984 300 km² strek. Die nege bewoonde eilande se oppervlaktes wissel van 747 km² (São Miguel) tot 17 km² (Corvo), met 'n kuslyn van altesaam 943 km. Die Asore-eilande lê verstrooid oor 'n seegebied wat byna so groot soos die vastelandse Portugal is.
Volgens hul geografiese ligging word die Asore-eilande in drie groepe onderverdeel: die oostelike groep (grupo oriental) met São Miguel en Santa Maria; die sentrale groep (grupo central) met Terceira, Graciosa, São Jorge, Pico en Faial; en die wesgroep (grupo ocidental) met Flores en Corvo. Die twee buitenste eilande, Santa Maria en Corvo, lê sowat 620 km ver van mekaar. Terwyl die eilandhoofstad Ponta Delgada as regeringsetel dien, vergader die Asoriese parlement in Horta.
Die Portugese volksplanting op die eilande het in die 15de eeu begin. Elkeen van die eilande het teen 'n verskillende tempo ontwikkel, afhangende van die gehalte van sy seehawe, sy terrein, weivelde en bewerkbare landbougrond, sy oesopbrengste en sy afstand van die ander eilande. Verskillende periodes van kolonisasie word ook weerspieël deur die feit dat elke eiland sy eie spesifieke dialek van Asoriese Portugees ontwikkel het.[1]
Met uitsondering van Graciosa en die weste van Santa Maria bestaan die eilandgroep merendeels uit bergagtige terrein. Die vulkaankeël Pico op die gelyknamige eiland is die hoogste piek op die Asore en in heel Portugal, op 2 351 meter bo seevlak. Die hele eilandgroep bestaan op sy beurt uit pieke van die Mid-Atlantiese Rug, 'n ondersese bergreeks, wat op die Noordelike en Suidelike Halfrond op plekke bo die wateroppervlak verrys.
Volgens die sensus van 2001 is die bevolking as iets meer as 240 000 bepaal. Meer as die helfte van die inwoners is op die hoofeiland São Miguel saamgetrek waar ook die grootste stedelike nedersetting en hoofstad, Ponta Delgada, geleë is. Die meerderheid van die bevolking is van Portugese afkoms. Historiese dokumente verwys na drie streke in Portugal – Algarve, Alentejo en Minho – van waar immigrasie op groter skaal plaasgevind het. Daarnaas het verskeie ander etniese groepe hul genetiese spore gelaat – 16de eeuse setlaars uit Vlaandere wat hulle merendeels op Faial gevestig het; Spaanse soldate, wat die argipel vanaf 1580 tydelik beset het; klein groepe immigrante uit ander dele van Europa, Joodse immigrante asook slawe van Moorse afkoms en uit Afrika.
Die stralend groen Asore-argipel word soms geassosieer met die legendariese versonke vasteland van Atlantis, maar Europeërs verbind sy naam veral met 'n klimatologies-weerkundige verskynsel wat gereeld voorkom – die sogenaamde Asore-hoogdrukstelsel waarvan die sentrum naby die eilandgroep geleë is (meestal suidwes daarvan). Dit maak deel uit van die subtropiese hoogdrukgordel en sorg, sodra dit in rigting Wes- en Sentraal-Europa begin uitbrei, vir stabiele warm en sonnige weerstoestande. Die Asore het 'n subtropiese klimaat met sterk oseaniese invloede. Saam met Kaap Verde, die Kanariese Eilande en die Madeiraeilande vorm die Asore 'n eie biogeografiese streek, Makaronesië, wat – ten spyte van die lang afstande – ooreenkomste tussen die eilande se fauna en flora toon.