Die atoomgetal (Z) is 'n term wat in chemie en fisika gebruik word om die aantal protone wat in die kern van 'n atoom voorkom, aan te dui. In 'n atoom met 'n neutrale lading is die aantal elektrone tipies gelyk aan die atoomgetal.
Die atoomgetal het aanvanklik verwys na die nommer wat die element se plek in die periodieke tabel aangedui het. Toe Mendelejef die bekende chemiese elemente gegroepeer het na aanleiding van ooreenkomste in hulle chemiese gedrag, is daar opgemerk dat die plasing van elemente in streng volgorde volgens hulle atoommassa's gelei het tot verkeerde plasings. Jodium en tellurium verskyn oënskynlik in die verkeerde volgorde as hulle in die tabel volgens hul atoommassas gelys word en pas beter in die tabel as hulle plekke omgeruil word. Wanneer hulle in die volgorde geplaas word waar hulle chemiese eienskappe beter ooreengestem het dit duidelik geword dat hulle nommers in die tabel ooreengestem het met hul atoomgetalle soos in die eerste paragraaf gedefinieer. Die getal is proporsioneel tot die massa van die atoom, maar het soos deur bostaande afwyking geïllustreer, 'n ander eienskap as die massa gereflekteer.
Die afwykings in hierdie volgorde is uiteindelik deur Henry Gwyn Jeffreys Moseley na aanleiding van sy navorsing in 1913 verduidelik. Moseley het 'n streng verwantskap ontdek tussen die x-straaldiffraksiespektra van die elemente en hulle korrekte plasing in die periodieke tabel. Dit het later duidelik geword dat die atoomgetal ooreengestem het met die elektriese lading van die kern; met ander woorde die aantal protone. Dit is hierdie lading wat aan elemente hulle chemiese eienskappe verleen eerder as hul atoommassas.
Die atoomgetal is nou verwant aan die massagetal (maar hulle moet nie met mekaar verwar word nie) wat die aantal protone en neutrone in die kern van 'n atoom is. Die massagetal word dikwels na die naam van die element geskryf, bv. koolstof-14 (gebruik in koolstofdatering).