Baltimore Orioles

Die Orioles se uniformlogo
Oriole Park at Camden Yards, die Orioles se tuisveld

Die Baltimore Orioles is 'n Amerikaanse professionele bofbalspan wat uit Baltimore uit speel. Die Orioles kompeteer in Hoofligabofbal (MLB) as 'n lid van die Amerikaanse Liga (AL) se Oostelike Divisie (AL-Oos). Die franchise het as een van die Amerikaanse Liga se agt "charter teams" in 1901 sy eerste jaar as 'n groot liga-klub in Milwaukee deurgebring as die Milwaukee Brewers (1894–1901), voordat die span in 1902 verskuif het na St. Louis en as die St. Louis Browns meegeding het. Na 52 jaar in St. Louis is die franchise in 1953 gekoop deur 'n groep sakemanne uit Baltimore, wat gelei is deur die prokureur en burgerlike aktivis Clarence Miles en burgemeester Thomas D'Alesandro Jnr. Die span se huidige eienaar is David Rubenstein. Die Orioles se tuisstadion is Oriole Park by Camden Yards, wat in 1992 in die middestad van Baltimore sy eerste wedstryde gehou het.[1][2] Die Baltimoretroepiaal[3](ook die "wielewaal" of "goudmerel"), wat plaaslik in Engels bekendstaan as die Oriole, is die amptelike voël van Maryland. Die naam is deur verskeie bofbalklubs in die stad gebruik, insluitend die Baltimore Orioles, wat slegs van 1901 tot 1902 bestaan het en ook 'n "charter team" van die Amerikaanse Liga was. Die Baltimore Orioles het na die 1902-seisoen ontbind en is die volgende jaar deur die New York Highlanders vervang, wat later bekend sou staan as die Yankees. Ander noemname vir die span is die "O's" of die "Birds.

Die franchise se eerste Wêreldreeks verskyning het in 1944 plaasgevind toe die Browns verloor het teen die St. Louis Cardinals. Die Orioles het van 1966 tot 1983 ses Wêreldreeks-verskynings gemaak en drie daarvan gewen in onderskeidelik 1966, 1970 en 1983. In hierdie tydperk het die klub met verskeie spelers gespog wat later in die Bofbal-heldesaal (National Baseball Hall of Fame) opgeneem sou word as Orioles, soos die "derde bofman" (third baseman) Brooks Robinson, die "buiteveldspeler" (outfielder) Frank Robinson, die "openingsbouler" (starting pitcher) Jim Palmer, die "eerste bofman" (first baseman) Eddie Murray, die "kortstop" (shortstop) Cal Ripken Jnr. en die spanbestuurder Earl Weaver. Die Orioles het 'n totaal van tien divisiekampioenskappe (1969, 1970, 1971, 1973, 1974, 1979, 1983, 1997, 2014 en 2023) en sewe ligakampioenskapsreekse ("pennants" of wimpels) (1944, terwyl die span in St. Louis gebaseer was, en 1966, 1969, 1970, 1971, 1979 en 1983) gewen. Hulle het ook drie "wild card" plekke (1996, 2012, 2016) losgespeel. Die franchise was die laaste "charter member" van die Amerikaanse Liga wat 'n wimpel gewen het, en die laaste "charter member" wat die Wêreldreeks gewen het.

Na 14 agtereenvolgende verloorseisoene tussen 1998 en 2011, het die span drie keer vir die uitkloprondtes ("post season" of naseisoen) gekwalifiseer onder bestuurder Buck Showalter en hoofbestuurder Dan Duquette, wat 'n divisietitel en vordering na die Amerikaanse Liga se Kampioenskapsreeks vir die eerste keer in 17 jaar in 2014 ingesluit het. Vier jaar later, tydens die 2018 seisoen, het die Orioles egter 115 wedstryde verloor, die meeste in die franchise se geskiedenis.[4] Die Orioles het verkies om nie die afgeloopte kontrakte van Showalter en Duquette na dié seisoen te hernu nie, wat hul onderskeie ampstermyne by Baltimore beëindig het. Die Orioles se huidige bestuurder is Brandon Hyde, terwyl Mike Elias as hoofbestuurder en uitvoerende vise-president dien. Twee jaar nadat hulle in 2021 slegs 52 wedstryde kon wen en 110 verloor het, het die Orioles in 2023 101 wedstryde gewen en 61 verloor, en sodoende die AL-Oos divisie vir die eerste keer sedert 2014 gewen.

Vanaf die 1901-seisoen tot aan die einde van die 2023-seisoen, was die klub se algehele wen-verloor-gelykop rekord 9,029-10,013-110 ('n wenpersentasie van .474) Sedert die klub in 1954 na Baltimore verskuif het, sien die Orioles se algehele wen-verloor-gelykop rekord, bepaal tot aan die einde van die 2023-seisoen, soos volg daaruit: 5,567–5,459–12 ('n wenpersentasie van .505).[5]

  1. Kamin, Blair. "Camden Yards paved a retro revolution — and influenced Wrigley Field's renovations". Chicago Tribune. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 April 2019. Besoek op 15 April 2019.
  2. Weigel, Brandon. "A More Complex Legacy: Oriole Park is known as "the ballpark that forever changed baseball", and its impact may well extend to local governing". Baltimore City Paper. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 April 2019. Besoek op 15 April 2019.
  3. Die Baltimoretroepiaal (Icterus galbula) is 'n sangvoël uit die familie van die troepiale. Die wetenskaplike naam van die soort voël is in 1758 as Coracias galbula gepubliseer deur Carl Linnaeus. Sien Linnaeus, C. (1758). Systema naturae 10de uitg: 108. Dit is 'n Nuwe Wêreld-voël van die Amerikaanse merelfamilie, met swart en oranje of geel vere.
  4. Meoli, Jon (31 Desember 2018). "Orioles rated as worst team in all of sports in 2018". The Baltimore Sun. Besoek op 6 Mei 2019.
  5. "Baltimore Orioles Team History & Encyclopedia". Baseball Reference. Sports Reference LLC. Besoek op 11 Augustus 2020.

Developed by StudentB