Bauxiet

'n Bauxietmyn in Suriname

Bauxiet is 'n wydverpreide gesteente wat die belangrikste aluminiumerts is. Mineralogies is dit 'n vorm van lateriet. Dit is hoogs verweerde, gewoonlik verharde, rooi ondergrond byna sonder primêre silikate, maar ryk aan waterhoudende ysteroksiede, kaoliniet, kwarts of aluminiumverbindings.[1]

Lateriete ontstaan gewoonlik in vogtige, tropiese en subtropiese streke met goeie dreinering . Dit word uit silika geloog en bevat konsentrasies van veral ysteroksiede en -hidroksiede en aluminiumhidroksiede. Dit kan 'n erts van yster, aluminium, mangaan of nikkel wees.[1] Lateriete wat veral aluminium bevat word bauxiete genoem, na die die dorp Les Baux-de-Provence naby St. Reny (Bouches-du-Rhône) in Frankryk waar dit eers beskryf is.[2]

Dit is 'n natuurlik voorkomende, heterogene materiaal wat hoofsaaklik bestaan ​​uit een of meer aluminiumhoudende minerale, plus wisselende hoeveelhede silika, ysteroksied, titaanhoudende minerale, aluminosilikate en baie ander onsuiwerhede in spoorhoeveelhede.[3]

Die belangrikste aluminiumhoudende minerale wat in verskillende verhoudings in bauxiet aangetref word, is hidroksiede of oksiedhidroksiede soos gibbsiet en sy polimorfe soos boehmiet en diaspoor. Bauxiete word tipies geklassifiseer volgens hul beoogde kommersiële toepassing: skuurmiddel, sement, chemiese of metallurgiese grondstof, vuurvaste stowwe, ens.[3]

  1. 1,0 1,1 "Laterite". mindat.
  2. "Bauxite". mindat.
  3. 3,0 3,1 "Bauxite and Alumina Statistics and Information". USGS.

Developed by StudentB