Die Belarusse of Wit-Russe (Wit-Russies: беларусы, bielarusy; Russies: белорусы) is 'n Oos-Slawiese volk van sowat 10,5 miljoen mense inheems aan Belarus (Wit-Rusland). Die meeste Belarusse is Oosters-Ortodokse of ongebonde. Belarusse vorm die titulêre nasie van Belarus, waar hulle 83,7% van dié land se bevolking vorm. Naas Belarusse leef nog sowat 785 000 Russe in Belarus.
Wêreldwyd leef omtrent 10,5 miljoen Belarusse, waarvan sowat 8,2 miljoen in Belarus, 750 000 in die Verenigde State, 521 443 in Rusland en 275 763 in Oekraïne. Tydens die Russiese Ryk en die Sowjetunie het Belarusse in destydse deelgebiede soos Letland (68 174), Kasakstan (66 476), Litaue (41 100), Moldowa (20 000) en Estland (12 327) gevestig. Daarbenewens het Belarusse nog in lande soos Pole (47 000), Australië (20 000) en Kanada (15 565) gevestig.
Vanaf die 17de eeu is die Belarusse as deel van die Drie-enige Russiese volk beskou, wat uit Groot-Russe, "Klein-Russe" (Oekraïners) asook Belarusse bestaan en uit die Oud-Russiese volk van die Kiëf-Roes ontwikkel het. Dit was die amptelike konsep waarop die Russiese Ryk gegrond is en was tot die uitbreek van die Russiese Rewolusie wêreldwye etnologiese standard.