Ben Nevis | |
---|---|
Ligging | Skotland, Verenigde Koninkryk |
Hoogte | 1 344 meter bo seevlak |
Reeks | Grampian Mountains |
Koördinate | 56°47′49″N 05°00′13″W / 56.79694°N 5.00361°W |
Eerste bestyging | 17 Augustus 1771 |
Eerste bestyger(s) | James Robertson |
Maklikste roete | Stap |
Vertaling van naam | Beinn Nibheis: Kwaai berg, Berg met sy hoof in die wolke (Skots-Gaelies) |
Ben Nevis (Skots-Gaelies: Beinn Nibheis, [peˈɲivəʃ]) is 'n berg in Skotland wat 1 344 meter hoog is. Dit is ook die hoogste berg op die Britse Eilande.[1] Die piek is aan die westelike kant van die Grampian Mountains-bergreeks in die Lochaber-streek van die Skotse Hoogland naby Fort William geleë.
Ben Nevis is 'n gewilde trekpleister vir staptoeriste en bergklimmers en word jaarliks deur 'n geskatte 100 000 besoekers bestyg, waarvan sowat driekwart die Poniepad-roete vanaf Glen Nevis volg. Die rotswande aan die noordelike kant van Ben Nevis word as van die hoogstes in die Verenigde Koninkryk gereken en bied rotsklim- en rotsklouteropsies van verskillende moeilikheidsgrade vir bergklimmers. Hulle is ook die belangrikste bestemming vir ysklimentoesiaste in die land.
Die toppunt van Ben Nevis is die ineengestorte koepel van 'n ou vulkaan waar die bouvalle van 'n vroeëre weerstasie, wat tussen 1883 en 1904 beman was, besigtig kan word. Die weerkundige gegewens, wat in daardie tydperk versamel is, speel steeds 'n belangrike rol by die ontleding van weerwaarnemings in Skotse berggebiede. Die Skotse natuur- en weerkundige C.T.R. Wilson (1869–1959), wat 'n tyd lank by die weerstasie werksaam was, is hier geïnspireer tot die uitvinding van sy "wolkekamer" (ook Wilson-kamer genoem), 'n verklikker vir ioniserende straling.