Bengale of Bongo (Bengaals: বাংলা, Bangla, [baŋla], of বঙ্গ Bônggo [bɔŋɡo]; Engels: Bengal) is 'n gebied van Suid-Asië wat Bangladesj en die Indiese deelstaat Wes-Bengale insluit.[1] Dit vorm 'n geografiese en etnolinguistiese streek in die oostelike gedeelte van die Indiese subkontinent tussen die Himalaja in die noorde en die Golf van Bengale in die suide. Dit is suidoos van Nepal, suid van Sikkim, suidwes van Bhoetan en noordwes van Mianmar geleë.
Bengale is een van die digbevolkste streke ter wêreld en hier mond die Ganges saam met die Brahmaputra in die Golf van Bengale uit. Die streek bestaan uit die onafhanklike land Bangladesj in die ooste en die Indiese deelstaat Wes-Bengale in die weste. Bengale beslaan 'n totale oppervlakte van 236 322 km² en het 'n bevolking van sowat 260 miljoen in 2015 gehad.[2][3] Twee van die wêreld se megastede is in die streek geleë: Dhaka, die hoofstad van Bangladesj, en Kolkata, Indië se derde grootste stad.
Bengale se bevolking bestaan veral uit Bengale, wat Bengaals as moedertaal praat. Die Bengale van Bangladesj is oorwegend Moslems, terwyl die Bengale van Wes-Bengale oorwegend Hindoes is. Daarbenewens leef ander etniese groepe in Bengale wat Austro-Asiatiese, Drawidiese en Tibeto-Birmaanse tale praat.
Bengale het tot 1905 een van die subdivisies van Brits-Indië gevorm met Kolkata as sy hoofstad tot in 1912. Met die Partisie van Indië het Oos-Bengale met sy Islamitiese bevolking as Oos-Pakistan deel van Pakistan geword, terwyl die Hindoeïstiese Wes-Bengale deel van die onafhanklike Republiek Indië geword het. Dit het tot 'n grootskaalse uitruiling van bevolkingsgroepe tussen Oos- en Wes-Bengale gelei. As gevolg van die Bengaals-Indiese oorwinning oor Pakistan tydens die Bangladesj Bevrydingsoorlog het Bangladesj in 1971 onafhanklik geword.