Kaart | Vlag |
Wapen | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Engeland |
Koördinate | 52°29′N 01°54′W / 52.483°N 1.900°W |
Stigting | ca. 600 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 267,8 vk km |
Hoogte bo seevlak | 140 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2019) | 1 141 816 |
- Bevolkingsdigtheid | 4 262/vk km |
Tydsone | UTC +0 (GMT) |
- Somertyd | UTC +1 (BST) |
Burgemeester (Lord Mayor) | Maureen Cornish |
Amptelike webwerf | birmingham.gov.uk |
Birmingham (Engels: [ˈbɜːrmɪŋəm], ) is 'n stad en 'n metropolitaanse gebied (borough) in die westelike Middelland van Engeland.[1] Birmingham is die naasgrootste stad in die Verenigde Koninkryk en was voorheen ’n vuil nywerheidstad, maar is deesdae ook ’n sentrum vir kuns en klassieke musiek. Histories was dit een van die vernaamste spilpunte van die Industriële Rewolusie in Groot-Brittanje gewees.
Die stad is in die verlede ook die "wêreld se werkwinkel" en "die stad van 'n duisend ambagte" genoem. Birmingham het van 'n onbenullige nedersetting, waarvan die waarde in Willem die Veroweraar se Domesday Book van 1086 op slegs £1 beraam is, tot die tweede belangrikste stad in die Britse Ryk met 'n bevolking van meer as een miljoen gegroei. Die merkwaardige ekonomiese ontwikkeling het in 1154 begin toe die status van markdorp aan Peter de Birmingham se klein nedersetting toegeken is. Die sentrale markplein, die driehoekige Bull Ring, met die St. Martins-parogiekerk in sy middel, het vervolgens tot 'n beduidende handelsplek ontwikkel.
In die 18de eeu het Birmingham reeds by Coventry verbygesteek om die grootste nedersetting in Warwickshire te word. Dit was mans soos James Watt, Matthew Boulton, Joseph Priestley en William Murdock wat van Birmingham een van die eerste nywerheidstede in Groot-Brittanje sou maak. Plaaslik vervaardigde goedere is na alle wêrelddele uitgevoer.
In die middel van die 19de eeu het Birmingham nog eens 'n baanbrekersrol in 'n verskeidenheid velde soos politieke hervorming, opvoeding en munisipale administrasie gespeel. In die 20ste eeu het Birmingham teenspoed begin ervaar. Groot dele van die middestad is in die Tweede Wêreldoorlog deur Duitse bomme vernietig, terwyl die stad ná 1945 'n simbool van mislukte stadsbeplanning geword het. Die motorbedryf het in die 1960's en 1970's van Birmingham 'n soort "Britse Detroit" gemaak en tienduisende werkgeleenthede geskep, maar dit is uiteindelik deur strydlustige vakbondleiers en onbekwame bestuurders vernietig. Dit was die beginpunt van 'n tydperk van deïndustrialisasie wat baie inwoners werkloos gelaat het. Toe die Britse motorbedryf 'n nuwe groeifase begin beleef het, kon Birmingham nie meer voordeel daaruit trek nie.
Birmingham het baie pogings onderneem om sy handels- en toerismebedryf te ontwikkel, en al was hulle suksesvol, was groei in hierdie sektore nie naastenby groot genoeg om vir die verlies aan industriële werkgeleenthede te vergoed nie. Volgens skattings het 61 000 werkgeleenthede tussen 1998 en 2008 in die privaat sektor verlore gegaan.[2]
Die huidige City of Birmingham is die tweede grootste stad in die Verenigde Koninkryk ná die hoofstad Londen met 'n bevolking van 1 141 816 (skatting teen middel 2019) en kernstad van die land se tweede grootste metropolitaanse gebied met 4,3 miljoen inwoners. Birmingham maak daarnaas deel uit van die West Midlands-agglomerasie (West Midlands conurbation) met 2 919 600 inwoners wat naas twee stede (Birmingham en Wolverhampton) 'n aantal groot nedersettings in die omgewing soos Solihull en Wolverhampton asook die nedersettings van die Black Country insluit.
Birmingham is 'n multikulturele stad, en sowat dertig persent van sy inwoners is van nie-blanke afkoms. Volgens die sensus van 2001 is 70,4 persent van die bevolking blankes (waarvan 3,2 persent Iere), 19,5 persent Asiërs of Asiatiese Britte, 6,1 persent Swartes of Britse Swartes, 0,5 persent Han-Chinese en 3,5 persent van gemengde of ander herkoms.
Birmingham was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966, die krieketwêreldbekertoernooie in 1975, 1979, 1983, 1999 en 2019, die Kampioentrofeë in 2004, 2013 en 2017, die Rugbywêreldbeker 2015, asook die Statebondspele 2022.