| |||||
| |||||
Die Bisantynse Ryk in sy grootste uitbreiding in 555 onder keiser Justinianus I. | |||||
Hoofstad | Konstantinopel | ||||
Taal/Tale | Latyn (tot 620) Grieks (ná 620) | ||||
Godsdiens | Oosters-Ortodokse Kerk | ||||
Regering | Monargie | ||||
Wetgewer | Senaat | ||||
Historiese tydperk | Middeleeue | ||||
- Stigting van Konstantinopel | 11 Mei 330 | ||||
- Ottomaanse verowering van Konstantinopel | 29 Mei 1453 | ||||
Bevolking | |||||
- 4de eeu skatting | 34 000 000 | ||||
Geldeenheid | Solidus Hyperpyron |
Stigting van Rome |
Deel van 'n reeks oor die |
---|
Geskiedenis van Griekeland |
Griekse Bronstydperk |
Egeïes • Helladies • Sikladies • Minoïes • Miceens |
Antieke Griekeland |
Donker eeue • Argaïes • Klassiek • Hellenisties • Romeins |
Middeleeuse Griekeland |
Bisantyns • Frankies en Latyns • Ottomaans |
Moderne Griekeland |
Die Bisantynse Ryk (Grieks: Βυζαντινή Αυτοκρατορία, amptelik steeds Βασιλεία τῶν Ῥωμαίων "Keiserryk van die Romeine", eietyds kort Romania of Ῥωμανία genoem), dikwels kort Bisantium (Grieks: Βυζάντιο[ν]) of, vanweë sy historiese oorsprong, die Oos-Romeinse Ryk, was 'n keiserryk in die oostelike Mediterreense gebied. Dit het in die laat Oudheid ná die verdeling van die Romeinse Ryk in 395 uit sy oostelike helfte ontstaan en het met die Osmaanse verowering van Konstantinopel op 29 Mei 1453 ondergegaan.
Die Ryk het aanvanklik tot by die Arabiese Skiereiland en in die weste tot Noord-Afrika en die Atlantiese Oseaan gestrek, maar was vanaf die 7de eeu rofweg tot Klein-Asië en Suidoos-Europa beperk. Dit is vanuit die hoofstad Konstantinopel (die huidige Istanboel) geregeer wat ook as Bisantium bekend gestaan het.
Die bekende bisantinis Georg Ostrogorsky het die Bisantynse Ryk as 'n mengsel van Romeinse staatswese, Griekse kultuur en Christelike geloof beskryf.[1]
Die benaming "Bisantynse Ryk", wat van die hoofstad afgelei is, word uitsluitlik in die moderne navorsing gebruik. Die bewoners van die ryk het na hulself nie as Bisantyne verwys nie, maar steeds as Romeine (in die moderne wetenskaplike konteks word die term "Rhomeërs" gebruik). In die Latynse weste is na hulle as Grieke verwys.
Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk word in die moderne geskiedskrywing en navorsing in drie fases verdeel:
Naas hierdie tradisionele periodisering is daar ook alternatiewe sienswyses. In die meer onlangse navorsing is daar neigings om eers vanaf die laat 6de of 7de eeu van 'n suiwer Bisantynse geskiedenis te praat en vroeëre periodes nog by die laat-Romeinse oudheid te reken.[2]
Hierdie stelling is omstrede, veral omdat ander bisantiniste vrees dat hul vak aan belangrikheid sou kan verloor indien die laat-antieke fase van die ryk volledig by die geskiedenis van die klassieke Oudheid gereken sou word.
Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk is deur 'n byna permanente afweerstryd teen vyandelike magte langs sy grense oorheers wat die Bisantyne se kragte verteer het. Fases van uitbreiding (ná gebiedsverliese in die 7de eeu is veral in die 10de en 11de eeu nuwe streke verower) het mekaar afgewissel met fases waartydens die Bisantyne teruggetrek het (so in die laat tydperk van die ryk toe sy kragte uitgeput was).
Die binnelandse gebeure is, veral tot in die 9de eeu, verskeie kere deur godsdienstige dispute en enkele burgeroorloë oorheers, alhoewel die staatswese, wat op Romeinse strukture gebaseer was, tot in die 13de eeu onveranderd gebly het. Op kulturele gebied het Bisantium beduidende literêre en ander kunswerke opgelewer en as bemiddellaar van die antieke erfenis 'n beduidende rol vir die Europese beskawing vervul. Die kodifisering van die Romeinse reg onder keiser Justinianus I sou die basis vir die regstelsels van Europese state lewer.[3] Daarnaas het die Bisantynse Ryk beslissende invloed op die kerstening van Oos-Europa (die Balkanskiereiland en Rusland) uitgeoefen en tot in die 15de eeu as 'n Christelike vesting in die ooste bestaan wat alle aanvalle van Islamitiese magte afgeweer het.