Blaasinstrumente behoort saam met slaginstrumente tot die oudste middele waarmee die mens musiek maak. Hulle is gewoonlik van hout of van metaal gemaak en die speler blaas in die buis deur middel van 'n mondstuk, wat vas is of afgehaal kan word.
'n Blaasinstrument se klank word voortgebring wanneer die lugkolom in die instrument deur blasing in trillings omgesit word wanneer die lugkolom oor die een of ander obstruksie gestuur word. Deur middel van gleuwe en kleppe kan slegs 'n gedeelte van die lugkolom in trillings omgesit word, waardeur daar, benewens die grondtoon, ander tone voortgebring kan word.
By 'n aantal instrumente, veral by koperblaasinstrumente, vind die verandering in tone plaas deur 'n wysiging van die lipspanning (embouchure) of deur 'n verlenging van die lugkolom. Die verlenging geskied deur die buise uit te skuif of deur aansluitings (verlengstukke) deur middel van ventiele aan die buis te verbind.
In die Wes-Europese musiek het die blaasinstrumente wat tans in simfonieorkeste gebruik word, eintlik uit die volksmusiek en die militêre lewe ontwikkel.
Die indeling van hout- en koperblaasinstrumente kan histories of volgens speeltegniek verklaar word. So byvoorbeeld word die metaaldwarsfluit as 'n houtblaasinstrument gereken omdat sy voorganger uit vorige eeue van hout gemaak was.