Blin, blintsjik | ||
’n Bord met blini, ook genoem blintsjiki. | ||
Soort gereg | Pannekoek | |
Land | Rusland | |
Hoofbestanddeel | Meel | |
Ander bestanddele | Melk, eiers, suiker | |
Soortgelyke geregte | Plaatkoekie, crêpe, flapjack |
’n Blin (meervoud: blini; Russies: блин, блины; verkleinwoord: блинчик, blintsjik) is ’n soort Russiese pannekoek wat tradisioneel van koring- of (al hoe minder) van bokwietmeel gemaak en saam met suurroom, dikmelkkaas, botter, kaviaar en ander bykosse voorgesit word.[1]
In Russies is blin die enkelvoud en blini die meervoud, maar omdat die enkelvoud so selde voorkom, gebruik baie mense in ander tale die woord "blini" vir die enkelvoud. Die Afrikaanse (dubbele) meervoud is dan "blini's". Soms word die verkleinwoord, blintsjik(i), gebruik. Die Russiese woord kom van die Oudrussiese млинъ (mlin).[2] Dit het oorspronklik ’n gereg van gemaalde meel beteken, afgelei van die Oekraïense term mlin vir "meul" en vandaar die Oekraïense woord млинець (mlinets) vir blin.
Die Joodse blintz het blykbaar uit die blin ontstaan. Dit is ’n dun pannekoekie wat gewoonlik van koringmeel gemaak en om ’n vulsel van kaas of vrugte gevou word. Dit word dan weer gebraai of gebak.[3]