'n Blokketting is 'n verspreide databasis wat 'n aaneenhoudende groeiende lys byhou van geordende rekords (data), genoem blokke. Elke blok beskik oor 'n tydstempel en 'n verbinding tot 'n vorige blok. Deur ontwerp is blokkettings inherent gehard teen die ongemagtigde verandering van data. Sodra 'n blok van rekords gestoor is, sal enige toekomstige verandering aan daardie blok die huts van die blok verander en sodoende onthul dat daar aan die data gepeuter is. Dit is as gevolg van die aard waarop data oor verskeie rekenaars wêreldwyd verspreid voorkom. Binne die stelsel vind daar 'n gegewensuitruiling plaas en die verifikasie tussen die nodusse in die stelsel word uitgevoer. Dit gebeur deur middel van 'n konsensusproses.
Blokkettings is deur ontwerp beveilig en 'n voorbeeld van 'n verspreide gerekenariseerde stelsel met 'n hoë Bisantynse foutverdraagsaamheid. Gedesentraliseerde konsensus kan verkry word deur middel van die blokketting. Dit maak blokkettings geskik vir die rekordhouding van byeenkomste, aktes, mediese rekords en vir ander rekordbestuurdoeleindes, identiteitbestuur, transaksieverwerking en die bewys van herkoms. Die aanwending van 'n blokketting kan daarvoor sorg dat 'n derde party oortollig is om die betroubaarheid van 'n transaksie te waarborg. In die toekoms gaan blokkettings reuse implikasies inhou vir verskeie bedrywe wat tans transaksies verifieer.
Satoshi Nakamoto ('n pseudoniem van 'n onbekende persoon of groep) het die eerste blokketting in 2008 konseptualiseer. Dit is in 2009 as die kernkomponent van die digitale geldeenheid bitcoin geïmplementeer, waar dit as die openbare joernaal vir alle transaksies dien. Die eweknienetwerk en verspreide tydstempelfunksie bring die outonome en onafhanklike bestuur van die blokketting tot stand. Die uitvinding van die blokketting vir bitcoin het dit die eerste digitale geldeenheid gemaak wat die dubbeluitgaweprobleem sonder die daarstel van 'n gesentraliseerde bediener oplos.