Boere

Hierdie artikel handel oor die etniese bevolkingsgroep. Vir enige persoon wat op 'n plaas werk, sien Boer (landbou).
Boere
Paul Kruger

Andries PretoriusSarel Cilliers Piet Joubert
Paul Kruger, Andries Pretorius, Sarel Cilliers en Piet Joubert

Totale bevolking: 1 500 000+[1]
Belangrike bevolkings  in: Suid-Afrika, Namibië, eSwatini
Taal: Afrikaans
Geloofsoortuiging: Christene (Protestante)
Verwante etniese groepe: Nederlanders, Friese, Vlaminge; Duitsers, Engelse, Franse, Skotte; Kleurlinge, Rehoboth-basters, Griekwas

Die Boere is 'n geskiedkundige term wat verwys na 'n etniese en kulturele groep wat bestaan het uit die afstammelinge van die hoofsaaklik Nederlandssprekende boere en hulle families wat hulle in die 1800's in die Oranje-Vrystaat, Transvaal en, tot 'n mindere mate, Natal gevestig het en daar 'n aantal Boererepublieke gestig het. Die groep sluit in die nakomelinge van die Voortrekkers wat die Kaapkolonie in die begin van die 19de eeu tydens die Groot Trek verlaat het, Kaapse burgers wat later na die Transvaal of Vrystaat geïmmigreer het en geassimileerde immigrante uit Europa. Verskeie redes word aangegee vir die verlaat van die Kaapkolonie waaronder ontevredenheid met die Britse koloniale regering, voortdurende grensoorloë tussen die Xhosas en die inwoners van die Kaapkolonie met gepaardgaande gebrek aan sekuriteit, gebrek aan grond, die afskaffing van slawerny in die Kaap, arbeidsprobleme en politiese marginalisering.[2]

Die term Boere het aanleiding gegee tot 'n aantal woordsamestellings wat verband hou met die kultuur en gebruike van die Boere insluitend: boeresport, boeretroos, boerekos, boerehaat, Boerejood, boereperd of boerperd, ens. Die oorloë tussen die Boererepublieke, die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek word soms die Eerste- en Tweede Boereoorloë genoem. Die term Boerevolk is ook histories gebruik as 'n alternatiewe benaming van die Afrikaners of 'n gedeelte daarvan.[3] Die term is ook in baie ander tale oorgeneem soos Engels: Boers, Frans: Les Boers, Portugees Os bóeres en Duits: Die Buren. Die term is later met beide positiewe (prysende) en negatiewe (beledigende) konnotasie in die letterkunde en alledaagse lewe gebruik om na Afrikaners te verwys.[4][5]

  1. Stürmann., Jan (2005). New Coffins, Old Flags, Microorganisms And The Future of the Boer.
  2. Herman Gilomee, Die Afrikaners – 'n Biografie, Tafelberg, 2004, ISBN 0-624-04181-6
  3. Pharos, Afrikaans-Engels Woordeboek, Eerste Druk, 2005, ISBN 1-86890-044-4, NN-uitgewers beperk.
  4. Dorothea van Zyl, Afstand en vereenselwiging: Perspektiewe op die veranderende betekenisse van boer en Boer in die Afrikaanse poësie[dooie skakel], Departement Afrikaans en Nederlands Universiteit van Stellenbosch
  5. Annette Marié Jordaan, Mites rondom Afrikaans, Hoofstuk 1, Doktorale Tesis, Universiteit van Pretoria, 2004

Developed by StudentB