Boom

'n Rooihoutboom, die hoogste boomspesie op aarde

In plantkunde is 'n boom 'n meerjarige plant met 'n langwerpige stam wat gewoonlik takke en blare ondersteun. Volgens sommige enger definisies is 'n boom slegs houtplante met sekondêre groei, plante wat bruikbaar is vir hul hout of plante bo 'n bepaalde hoogte. In wyer definisies word langer palms, boomvarings, piesangs en bamboes ook as bome geag. Bome is nie 'n taksonomiese groep nie, maar sluit 'n verskeidenheid plantspesies in wat onafhanklik van mekaar 'n stam en takke ontwikkel het as 'n manier om bo ander plante uit te troon om vir sonlig te kompeteer. Die meerderheid boomspesies is angiospermae of hardehoutsoorte; baie van die res is gimnospermae of sagtehoutsoorte. Bome bestaan al vir 370 miljoen jaar en daar is na raming sowat drie biljoen volwasse bome in die wêreld.

'n Boom het tipies baie sekondêre takke wat vry van die grond deur die stam ondersteun word. Hierdie stam bevat tipies houtagtige weefsel vir sterkte, en vaskulêre weefsel om materiaal van een deel van die boom na 'n ander te vervoer. Die meeste bome word omring deur 'n laag bas wat as 'n beskermende versperring dien. Onder die grond vertak die wortels en sprei wyd uit; hulle dien om die boom te anker en vog en voedingstowwe uit die grond te onttrek. Bo die grond verdeel die takke in kleiner takke en lote. Die lote dra gewoonlik blare, wat ligenergie opvang en dit deur fotosintese in suikers omskakel, wat die voedsel vir die boom se groei en ontwikkeling verskaf.  

Bome plant gewoonlik voort met behulp van sade. Blomme en vrugte kan teenwoordig wees, maar sommige bome, soos konifere, het eerder stuifmeelkegels en saadkeëls. Palms, piesangs en bamboes produseer ook sade, maar boomvarings produseer eerder spore.  

Bome speel 'n beduidende rol om erosie te verminder en die klimaat te modereer. Hulle verwyder koolstofdioksied uit die atmosfeer en stoor groot hoeveelhede koolstof in hul weefsels. Bome en woude bied 'n habitat vir baie dier- en plantspesies. Tropiese reënwoude is een van die mees biodiverse habitatte ter wêreld. Bome bied skadu en skuiling, hout vir konstruksie, brandstof vir kook en verhitting, en vrugte vir kos sowel as baie ander gebruike. In sommige wêrelddele krimp woude omdat bome afgekap word om grond vir landboudoeleindes beskikbaar te stel. Weens hul lang lewe en bruikbaarheid, is bome nog altyd eerbiedig, met heilige bome in verskeie kulture, en hulle speel 'n rol in baie van die wêreld se mitologieë.

Bome is geneig om langlewend te wees, sommige word etlike duisende jaar oud. Dit is byvoorbeeld bekend dat die moerassipres (Taxodium distichum) van die oostelike Verenigde State meer as 2 000 jaar oud kan word.[1] Boomsade kan ook lank kiemkragtig bly. Verskeie sade van die Judese dadelpalm, 'n uitgestorwe variëteit van Phoenix dactylifera, is vanaf 1963 te Masada in Israel gevind. Die sade het volgens koolstofdatering uit die eerste, tweede en vierde eeue voor Christus dateer, asook die eerste eeu n.C.. Etlike hiervan is tog tussen 2005 en 2014 ontkiem en het lewenskragtige dadelpalms van albei geslagte opgelewer.[2]

  1. Georgiou, Aristos (10 Mei 2019). "2,624-Year-Old Tree Discovered In North Carolina Swamp Is One Of The Oldest On Earth". newsweek.com. Newsweek. Besoek op 6 Maart 2020.
  2. Gillan, Joanna. "The Judean Date Palm: Extinct Tree Resurrected from Ancient Seeds". Ancient Origins. ancient-origins.net. Besoek op 26 November 2020.

Developed by StudentB