Landsvlag | Landswapen |
---|---|
(Besonderhede | (Besonderhede) |
Basiese gegewens | |
Ampstaal: | Duits, Neder-Sorbies,[1] Nederduits[2] |
Hoofstad: | Potsdam |
Stigting: | 3 Oktober 1990 |
Oppervlakte: | 29 654,4 vk km (5de) |
Bevolking: | 2 521 893 (10de) (31 Desember 2019)[3] |
Bevolkingsdigtheid: | 85 inwoners per vk km (15de) |
BBP - Totaal - % Verandering teenoor vorige jaar |
2018 73,122[4] miljard € 3,3 % (2017) |
Nie-amptelike volkslied: | Märkische Heide |
Skuldlas per inwoner: | 6 433 € (2019) |
Totale skuldlas: | 16,189 miljard € (30 September 2019)[5] |
Werkloosheidsyfer: | 5,5 % (Desember 2019)[6] |
ISO 3166-2: | DE-BB |
Amptelike webwerf: | www.brandenburg.de |
Politiek | |
Eerste Minister: | Dietmar Woidke (SPD) (sedert 28 Augustus 2013) |
Regerende partye: | SPD, CDU en Grüne |
Setels in die parlement (Landtag) (88 setels) (2014: 88 setels): |
SPD 25 (2014: 30) AfD 23 (11) CDU 15 (21) Die Linke 10 (17) Bündnis 90/Die Grünen 10 (6) BVB/FW 5 (3) |
Laaste verkiesing: | 1 September 2019 |
Volgende verkiesing: | 2024 |
Parlementêre verteenwoordiging | |
Stemme in die Federale Raad (Bundesrat): | 4 (van 69) |
Kaart | |
Brandenburg (Duits: [ˈbʁandn̩ˌbʊʁk] , Nederduits: Bramborg/Brannenborg, Neder-Sorbies: Bramborska) is 'n deelstaat in die noordooste van Duitsland. Die administratiewe hoofstad en grootste stad is Potsdam. Brandenburg grens in die ooste aan Pole, in die suide aan die deelstaat Sakse, in die weste aan die deelstaat Sakse-Anhalt, in die uiterste weste langs 'n klein deel van die Elbe se rivierloop aan die deelstaat Nedersakse en in die noorde aan Mecklenburg-Voorpommere. Die Duitse hoofstad Berlyn, wat 'n eie deelstaat vorm, word volledig deur Brandenburg omring.
Brandenburg se wisselvallige geskiedenis word in historiese bronne gedokumenteer wat sowat tien eeue terugstrek. Die land se status en grense was voortdurend aan veranderinge onderworpe. So het Brandenburg aanvanklik as markgraafskap bestaan, om later 'n keurvorstedom, die kerngebied van Pruise en een van sy provinsies en uiteindelik 'n deelstaat van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) te word wat reeds vyf jaar ná sy stigting in 1947 weer ontbind en in drie administratiewe distrikte – Potsdam, Frankfurt (Oder) en Cottbus – omgeskep is. Met die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland op 3 Oktober 1990 het Brandenburg sy vorige status herwin om een van die sestien deelstate van die Federale Republiek van Duitsland te word.
Brandenburg is ten opsigte van sy oppervlakte die grootste van vyf nuwe oostelike deelstate wat op die gebied van die voormalige DDR gevorm is. Sy infrastruktuur is veral op Berlyn gerig, wat soos 'n eiland in die hart van Brandenburg lê. So word na Brandenburg dikwels as 'n deelstaat sonder geografiese hartland verwys.[8]
Saam met Berlyn vorm Brandenburg die metropolitaanse gebied (Duits: Metropolregion) Berlyn-Brandenburg, en ook die welvarendste nedersettings van Brandenburg is in die omgewing van Berlyn geleë. Baie voormalige bewoners van die Duitse hoofstad het hulle hier in die landelike groen gordel gevestig.
Die periferie van Brandenburg word deur yl bevolkte gebiede gekenmerk, wat veral op die landbou steun, soos Prignitz, Fläming, Spreewald, Oderbruch of Uckermark. In die omgewing van die stad Cottbus in die suidooste lê uitgestrekte dagboumyngebiede, waar groot hoeveelhede bruinkool vir die termiese kragsentrales van die gebied ontgin word.
Op die oog af is Brandenburg met meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope een van die waterrykste deelstate van Duitsland. Maar ondanks hierdie groot hoeveelhede oppervlakwater is daar 'n tekort aan grondwater, en die gebied ontvang in vergelyking met ander deelstate 'n lae reënval. Brandenburg is bowendien 'n sanderige streek waar die grond sonder aangepaste landboumetodes meestal te arm is vir intensiewe boerdery.