Britse Museum

Britse Museum
'n Beeld van die museum.
'n Noordoostelike aansig op die Britse Museum

Plek Londen
Land Verenigde Koninkryk
Openingsjaar 1759
Tipe museum Geskiedenis en kultuur

Museum van nasionale belang met vrye toegang vir die publiek
Webtuiste britishmuseum.org

Die Britse Museum (Engels: British Museum) is ’n beroemde gebou in Londen wat ’n groot en belangrike versameling antieke kuns, geskrifte, muntstukke, sketse, en so meer huisves.[1] Dit is in 1753 as die eerste openbare nasionale museum ter wêreld gestig en het sy deure in 1759 vir belangstellende besoekers geopen. Van die begin af het die museum gratis toegang tot sy versamelings gebied. In sy beginjaar het die Britse Museum, wat oorspronklik in Montagu House in die Londense stadsdeel Bloomsbury gehuisves is, net 71 000 voorwerpe vertoon en ongeveer 5 000 besoekers per jaar ontvang.

Die Britse Museum se Great Court, tans die grootste oordakte plein in Europa, het rondom die historiese Ronde Leessaal ontstaan
Die Elgin-marmerfries

Die uitbreiding van die museum se versamelings in die volgende twee en 'n half eeue het Groot-Brittanje se groeiende koloniale belange weerspieël en tot die vestiging van 'n aantal takmuseums gelei, waaronder die Britse Museum se afdeling vir natuurgeskiedenis in Suid-Kensington in 1881. Enkele dele van sy versamelings, waaronder die Elgin-marmerfries uit die Parthenon, bly omstrede aangesien hulle intussen deur hul oorsprongslande opgeëis word.

Die Britse Museum se permanente versameling, wat onder die grootstes en mees omvattendes ooit gereken word en voorbeelde van alle vastelande insluit, het intussen gegroei tot sowat agt miljoen voorwerpe wat aan die menslike geskiedenis van die vroegste tye af tot die moderne tyd asook aan die ontwikkeling van kuns en kultuur gewy is, terwyl die aantal besoekers tot meer as ses miljoen per jaar gestyg het.[2]

Die versamelings word in 92 verskillende galerye en vertoonsale uitgestal. Die mees bekende uitstallings sluit die Rosettasteen en die argeologiese vondste van Sutton Hoo in.[3]

Tot en met 1997, toe die Britse Biblioteek (met die Ronde Leessaal of Round Reading Room as sy middelpunt) na 'n nuwe gebou verskuif is, het die Britse Museum 'n nasionale museum van antikwiteite en 'n nasionale biblioteek onder een dak verenig. Die museum se sentrale binneplein, wat oorspronklik in die 1970's deur Colin St John Wilson ontwerp is, is in die laat 1990's deur die argitekte-ateljee Foster and Partners herontwikkel tot sy huidige vorm. Die binneplein is in 2000 deur koningin Elizabeth II plegtig ingewy en staan sedert bekend as die Queen Elizabeth II Great Court (algemeen kort Great Court genoem). Dit is tans die grootste oordakte plein in Europa.[4]

Die museum word tans as 'n nie-departementele openbare liggaam bestuur wat deur die Britse Departement van Kultuur, Media en Sport befonds word. Net soos ander museums van nasionale belang in die Verenigde Koninkryk vra die Britse Museum geen toegangsgeld nie, met die uitsondering van leenuitstallings.

  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. The British Museum: History of the British Museum. Besoek op 1 Januarie 2016
  3. (en) "History of the Collection". British Museum. Besoek op 18 September 2014.
  4. Susanne Olbrich + Christine Takengny: AAD Art | Architecture | Design - City Guide London. Kempen: teNeues 2011, bl. 18

Developed by StudentB