Die argitektoniese vakterm brutalisme verwys na 'n stroming en boustyl in die modernistiese argitektuur wat tussen 1945 en 1975 hoofsaaklik in Europa en Noord-Amerika gewild geraak en hier in die 1950's en 1960's - as mededinger van die sogenaamde Internasionale Styl met sy glas- en staalstrukture - hoogty gevier het. Die uiterlike voorkoms van brutalistiese geboue word bepaal deur eenvoudige blokagtige ontwerpe, die boumateriaal (ruwe beton, met gladde of bewerkte oppervlakke) wat die bouproses vir die waarnemer sigbaar maak, en die funksie van hul bouelemente.[1] Materiale en konstruksiemetodes (soos die tekstuur van houtbekistings waarin die vloeibare betonmassa gegiet is) bly sigbaar vir die waarnemer (vandaar die term sigbeton vir ruwe beton). Die stroming se naam is afgelei van die Franse term vir sigbeton, béton brut.
Brutalistiese boukuns word oorheers deur moderne boumateriale soos spuitbeton, staal en glas, alhoewel 'n groep argitekte wat as Team 10 bekendheid verwerf het, vir hul styl, wat as Nuwe Brutalisme bekend sou staan, ook meer tradisionele materiale soos bakstene en marmer gebruik het. Wat van brutalisme een van die mees omstrede strominge van moderne boukuns gemaak het, was die massale konstrukte met swaar en dikwels asimmetriese bouelemente wat met dié boustyl verbind word. So word brutalisme soms beskryf as 'n protesbeweging teen die eenvormigheid en uitruilbaarheid van staal-en-glasgeboue wat kenmerkend was vir die na-oorlogse Internasionale Styl.
Argitektuurhistorici beskryf brutalisme daarnaas in die konteks van die Nywerheidsomwenteling (wat moderne boumetodes en petrolgedrewe boumasjiene en -voertuie voortgebring het) en die beskikbaarheid van bekostigbare energiebronne vir beligting en verwarming wat nie net die massaproduksie van moderne boumateriale eers moontlik gemaak het nie, maar aan argitekte ook die vryheid gegee het om hul ontwerpe aan 'n groot verskeidenheid behoeftes aan te pas. Hulle was vry van alle beperkings wat hout (as vlambare boumateriaal) en bakstene (soos gebruik vir lasdraende binne- en buitemure) hulle opgelê het, terwyl nuwe boumetodes soos die gebruik van gewapende beton deur strukturele ingenieurs steeds verder ontwikkel en bemeester is.
Vanaf die laat 1960's het rekenaars ingang gevind tot die ateljees van ingenieurs en argitekte as 'n tegnologiese hulpmiddel wat strukturele berekeninge grootliks vergemaklik het. Groeiende ekonomiese welvaart, wat gepaard gegaan het met 'n stygende vraag na moderne behuising en openbare geriewe, het van brutalisme in die Verenigde Koninkryk die vernaamste boustyl van die moderne welvaartstaat gemaak: 'n bekostigbare manier om 'n groeiende bevolking binne 'n relatief kort tydperk en op groot skaal van gerieflike behuising, hospitale, skole en universiteite te voorsien.[2]
Vanuit die Britse Eilande, waar die argitekte-egpaar Alison en Peter Smithson die ruwe stoorhuis-estetiek van Nuwe Brutalisme[3] tot nuwe hoogtes geneem het, het die styl belangstelling by argitekte dwarsoor die wêreld gewek. Vry van doktrinêre beperkings, kon dit maklik aangepas word by plaaslike behoeftes, smaak of klimaat. In Duitssprekende lande is sakrale boukuns sterk beïnvloed deur brutalisme, in Oos-Europa en op die Balkan-skiereiland het dit uitgemond in 'n ekspressiewe nasionaal-romantiese boustyl, in Suid-Amerika het die Brasiliaanse kunsbeweging Tropicália dit met swierige elemente aangevul (soos vir die Torre Paulista in São Paulo), in die Sowjetunie het dit futuristiese trekke gehad en in Japan tot 'n luukse styl ontwikkel.[4]