Chivhu (vroeër Enkeldoorn) | |
---|---|
Koördinate: 19°00′0″S 30°09′0″O / 19.00000°S 30.15000°O | |
Land | Zimbabwe |
Provinsie | Masjonaland-Oos |
Stigting | 1850 |
Bevolking | |
• Totaal | 10 000 |
Tydsone | UTC+2 (SAT) |
Chivhu (voorheen Enkeldoorn) is 'n dorpie in die middel van Zimbabwe in die provinsie Masjonaland-Oos met 'n geskatte bevolking in 2007 van net meer as 10 000.
Die dorpie het ontstaan toe Hendrik Bekker 'n plaas afgemeet het aan die pad tussen Fort Victoria (nou Masvingo) en Salisbury (nou Harare). Hy het dit Enkeldoorn genoem na aanleiding van die soort akasia wat hier gegroei het. Bekker het later sy plaas net so agtergelaat, maar Enkeldoorn het in 'n dorpie ontwikkel, wat die middelpunt was van 'n vooruitstrewende boerderygemeenskap wat hoofsaaklik uit Afrikaners bestaan het. Die meeste het hulle reeds in die tyd van Cecil John Rhodes hier kom vestig. Hulle het altyd spottenderwys na hulle gebied as die Republiek van Enkeldoorn verwys met die plaaslike kroeg as die hoofstad. 'n Aandenkingsvisum is destyds aan besoekers uitgereik en 'n spesiale Enkeldoorn-das aan hulle verkoop waarop 'n afbeelding van 'n enkeldoornboom gedruk was.